Slypskool 2015 saam met Deon Meyer

bsv_deonmeyer650Op 22 Augustus 2015 het die Bloemfonteinse Skrywersvereniging hul jaarlikse nasionale BSV- Slypskool in Bloemfontein aangebied. Deon Meyer was vanjaar die Slypskoolaanbieder en die slypskoolgangers het die ervaring om meer oor die skryfproses te leer by so ‘n groot internasionaal-gerekende en bekroonde skrywer wat steeds so nederig is, uiters positief ervaar. Hier is die BSV-bestuur saam met hom. Voor: Karen van Vuuren, Ronelle Meyer en Douwlina du Plessis (Ondervoorsitter). Agter: Lelani Fourie (Sekretaresse/tesourier), Joe Mynhardt, Deon Meyer (Slypskoolaanbieder/skrywer) en Corlietha Swart (Voorsitter: BSV). Afriforum het die slypskoolaanbieder geborg.

Die prysuitdeling van wenners van die nasionale BSV-skryfwedstryd, wat vanjaar kort onder 1000 inskrywings gegenereer het en deur die Fakulteit Geesteswetenskappe van die Universiteit van die Vrystaat geborg is het ook tydens die geleentheid plaasgevind, waartydens die bundel met die weninskrywings, Inkvars 2015 (geborg deur die Stichting tot Bevordering van Culturele Betrekkingen, Nederland-Zuid-Afrika), ook bekendgestel is. Die bundel spog met ‘n voorbladontwerp van skrywer en kunstenaar, Fanie Viljoen. Tydens die geleentheid het Protea Boekehuis ook boeke te koop aangebied.

Deon Meyer se skrywersversameling word in die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN) in President Brandstraat, Bloemfontein, gehuisves en die museum het as dekadeslange vennoot van die BSV ‘n indrukwekkende glaskasuitstalling met baniere tydens die BSV-slypskool ten toon gestel. Die twee skrywende sussies, Ciska en Lynthea Julius, was vanjaar die beurshouers van die BSV.

bsv_deonmeyer1

Die wenners van hierdie jaar se BSV-skryfkompetisie. Voor: Anri Scheepers, verteenwoordiger van die Universiteit van die Vrystaat se Fakulteit Geesteswetenskappe wat die kompetisie borg, Gilbert Gibson, een van die beoordelaars, Deon Meyer, bekroonde skrywer en gasspreker, en Corlietha Swart, BSV-voorsitter en dosent aan die UV. Middel: Hanté du Toit (tweede plek in die ope afdeling C), Irene Saunders (senior afdeling: eervolle vermelding), Thandolwethu Gulwa (senior afdeling: wenner van die nie-moedertaalskrywers), Lisa Deysel (poësie: wenner) en Sidney Gilroy (eervolle vermelding). Agter: Ilse Smalberger (tweede plek in die ope afdeling), Leunis van Rooyen (eerste, tweede en eervolle vermelding in prosa en poësie) en Jemima Meyer (skolepoësie: wenner). Foto: Mlungisi Louw

bsv_deonmeyer2

Die twee BSV-beurshouers vir 2015 by die jaarlikse slypskool vir ontluikende skrywers. Voor van links: Lynthia  en Sisca Julius. Agter van links: Anri Scheepers(UV), Deon Meyer ( slypskoolaanbieder en skrywer) en Corlietha Swart (BSV-voorsitter en UV-dosent). Foto: Mlungisi Louw

Chanette Paul Slypskool

Chanette Paul Die Bloemfonteinse skrywersvereniging se jaarlikse slypskool word hierdie jaar op 23 Augustus 2014 deur Chanette Paul aangebied. Chanette is vir die laaste twee jaar aangewys was die Lekkerlit-skrywer van die jaar.

Om te bespreek stuur ‘n e-pos aan Lelani Fourie by bloemsv@gmail.com of kontak haar by 0733883377.

Meer oor Chanette;

Chanette Paul word rond en bont groot. Haar eerste skryfsukses kom op sestien, naamlik ’n sprokie wat op Siembamba voorgelees is, en in haar universiteitsjare word ’n kortverhaal in Huisgenoot gepubliseer. Eers twintig jaar later, gee sy weer aandag aan haar skryfwerk. Sedertdien is ’n verskeidenheid verhale en humorartikels, en vier en dertig boeke gepubliseer. Benewens ’n MA-graad in Afrikaanse en Nederlandse Letterkunde (1988), verwerf sy ook in 2003 ’n MA-graad in Skeppende Skryfwerk onder leiding van prof. Etienne van Heerden. Vir haar debuutromanse ontvang sy Perskor se prys vir beste romantiese fiksie. In 1999 en 2006 is Wip van die droomvanger en Leila word lig onderskeidelik finaliste vir die ATKV-Prosaprys, en in 2010 is die derde Gys Niemand-boek, Boheem, finalis vir die ATKV se Woordveertjies in die spanningsromankategorie. Met die eerste in die Gys Niemand-reeks, Springgety, betree Chanette die spanningsmark in alles erns en dit bring ’n waterskeiding in haar skryfwerk mee. Dis nie die eerste keer dat sy haar in ’n nuwe genre begewe nie, maar die skryf van spanningsromans was ’n ingrypende koersverandering. Chanette woon die afgelope paar jaar in die Overberg waar sy met allerlei storiedinge bedrywig is. Besoek haar webwerf by http://www.chanettepaul.co.za en gesels met haar op haar blog: http://chanettepaul.wordpress.com

Leon van Nierop bied die BSV Slypskool aan.

Die Bloemfonteinse Skrywersvereniging se jaarlikse Slypskool vir Ontluikende Skrywers vind vanjaar op Saterdag, 24 Augustus 2013 in die Ouditorium van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN) plaas. Die welbekende  filmresensent,  verhaleredakteur, skrywer, akademikus en radiopersoonlikheid, prof. Leon van Nierop, lei die daglange slypskool (geborg deur Afriforum). Hy is onder andere die skrywer van radio- en TV-reekse soos Ballade vir ‘n Enkeling, Wolwedans in die Skemer, Stralerjakkers, Herberg vir ‘n Vlugteling, ensovoorts en  is bekroon vir vele van sy 26 romans. Temas in kreatiewe skryf waaraan hy aandag gaan gee, is die storie, karakters, konflik, versperrings, ekonomie, herskrywing, algemene skryfwenke en analise van eie skryfwerk. Die koste vir slypskoolgangers, wat nie BSV-lede is nie, is R250, terwyl lede (ook diegene wat op daardie dag by die BSV aansluit,  ‘n skamele R130 vir die dag betaal (ete  en verversings ingesluit). Tydens hierdie geleentheid word die wenners van die BSV se landswye skryfwedstryd, wat net onder ‘n duisend inskrywings , selfs van oorsee gegenereer het,  bekroon. Die kompetisie is geborg deur die Fakulteit Geesteswetenskappe van UV. Die publikasie, Inkvars (geborg deur die Stichting tot bevordering van Culturele Betrekkingen, Nederland/Zuid- Afrika)  word dan ook bekendgestel, waarin al die weninskrywings van die verskillende kategorieë van die skryfwedstryd saam met die beoordelaarsverslae gebundel is as ‘n nuttige hulpmiddel vir voornemende skrywers, of vir gebruik in stelwerkklasse in skole.
Die BSV borg graag jaarliks een slypskoolganger wat ‘n aanleg vir kreatiewe skryf toon, maar nie die finansiële vermoë het om die slypskool by te woon nie. Indien u  van so ‘n persoon bewus is, stuur asb. volle besonderhede van die kandidaat vir die 2013-beurs saam met ‘n kort voorbeeld van sy/ haar skryfwerk na bloemsv@gmail.com . Om u plek te reserveer vir die slypskool, skakel gerus ons sekretaresse/tesourier, mej. Lelani Fourie by 0733883377, of besoek ons webwerf by bloemsv.wordpress.com vir elektroniese inskrywingsvorms of bestellings vir Inkvars. Net ‘n beperkte aantal mense kan die slypskool bywoon en die beskikbare plekke vlieg behoorlik. Bespreek dadelik om teleurstelling te voorkom!

prof. Leon van Nierop
prof. Leon van Nierop

Persoonlike Besonderhede : Prof. Leon van Nierop
Leon van Nierop begin as omroeper-regisseur by die SAUK in 1975 en werk vanaf 1983 as TV-draaiboek-redakteur. Hy onderskei hom as regisseur en skrywer van radio- en TV-reekse soos Wolwedans in die Skemer, Ballade vir ’n Enkeling, Die Huis in Hertestraat en Stralerjakkers wat ook op kykNET uitgesaai is. Hy het talle jarelange vervolgverhale soos Herberg vir ‘n Vlugteling en Nag van die Strandloper vir radio geskryf.

Hy doen rolprentresensies vir GMSA en Pasella op TV 1. Hy het ook 26 romans geskryf waaronder VUURVRETER, (genomineer vir ‘n ATKVeertjie as beste spanningsverhaal) VERKLIKKER, INSOMNIA en SNYDOKTER wat  binne 3 weke die vierde posisie op die algehele Suid-Afrikaanse en Internasionale Top 40 boeke behaal het, asook ’n kabaret, Girly se storie, wat by kunstefeeste opgevoer is.

Hy skryf al 38 jaar resensies vir verskeie publikasies soos (sedert 2002) Huisgenoot, You, Drum,  Daily Sun, DEKAT, Rapport, Vrouekeur, Lig en Citizen. Hy was vir 2 jaar lank verhaleredakteur van Vrouekeur.

Hy was vir 4 jaar lank professor in film en hoof van die FILMSKOOL by TUT en het film vir 20 jaar gedoseer. Hy skryf  2 boeke oor rolprent-waardering: SEEING SENSE ON FILM ANALYSIS en MOVIES MADE EASY.  Hy is vryskut-omroeper en nuusleser asook dramaregisseur en skrywer by RSG. Hy doen MONITOR se rolprentresensies al vir 20 jaar en skryf al 5 jaar lank RSG se jeugvervolgverhaal RATELS. Dit het pas as roman verskyn. Hy was ook mede-vervaardiger en aanbieder van DEKAT TV op SABC 3.  Sy jongste roman, die erotiese drama PLESIERENGEL verskyn in Augustus. Dit beteken Leon het 4 romans binne 9 maande gepubliseer. Hy wen die Caxton-toekenning twee keer as beste skrywer in 2009 en 2011, en is die naaswenner in die Sanlam-radiodramaskrywerskompetisie vir TWYFELBERG. Hy word deur die ATKV bekroon as beste radio-regisseur in 2010, en wen in 2011 nog ‘n  ATKVeertjie vir beste dokumentêre program oor Die Afrikaanse rolprent.

Sy TV-reeks oor die geskiedenis van die Afrikaanse rolprent Daar doer in die Fliek is onlangs op kykNET uitgesaai en hy skiet tans aan ‘n vervolg. Sy draaiboek vir WOLWEDANS IN DIE SKEMER is verfilm en die rolprent het R4,3 miljoen verdien. Dit het ook as roman verskyn en is as radioverhaal heropgevoer. Hy skryf tans aan ‘n rolprentdraaiboek en ‘n nuwe roman.

Francois Bloemhof Slypskool

2012 se BSV-Slypskool

Vir Ontluikende Skrywers aangebied deur François Bloemhof (die skrywer word geborg deur Afriforum)

Datum:        Saterdag  25 Augustus 2012
Tyd:            08:15  –  15:00
Plek:          Die Nasionale Afrikaanse Letterkundige
Museum en Navorsingsentrum (NALN)
Pres. Brandstraat, Bloemfontein

Wie lei die Slypskool?

Persoonlike Besonderhede : François Bloemhof

François Bloemhof se skryfloopbaan het in graad nege begin toe sy Engels-onderwyseres hom 97% vir ’n kortverhaal gegee het. Hy het nou reeds meer as 60 boeke die lig laat sien (in verskillende genres) en is die enigste skrywer ter wêreld wat so uitgebreid en suksesvol vir die volwasse en tiener- asook jeugmarkte skryf. Hy is meermalig in elke kategorie bekroon, insluitend met die De Kat-prys vir sy debuutroman, Die nag het net een oog. Van sy ander pryse sluit etlike ATKV-Veertjies in, waar lesers self hul wenboeke aanwys. Hy het ook al bundels vir verskeie uitgewers saamgestel. Hy spesialiseer in eerstes. Spinnerak was byvoorbeeld in 2006 die eerste boek in Afrikaans met ’n vrouespeurder, en in 2008 was Rooi Luiperd die eerste Afrikaanse boek met ’n geheime agent as hoofkarakter. Albei boeke het tot reekse aanleiding gegee. Sy Agent Snoet-boeke saam met die illustreerder Alistair Ackermann is weer al Afrikaanse strokiesreeks vir jong lesers. Daarbenewens het hy die wêreld se enigste Flipom geskryf, asook die eerste boek met ’n eie rekenaarspeletjie, die eerste tydskrifroman (Mooidraai Basuin) en die eerste boek met ’n oorspronklike CD-klankbaan (Hostis).

Sy radiowerk behels ’n debuutwenner in RSG se jaarlikse radiodramakompetisie asook twee vervolgverhale vir dié sender, een daarvan 173 episodes lank. Almal se storie, wat in die koerant Rapport verskyn het, was die eerste interaktiewe vervolgverhaal ter wêreld. Behalwe vir ’n kabaret en die verhoogstuk Die dae toe ek Elvis was, is sy drama vir tienerspelers, Hel op Hemel-en-Aarde, verlede jaar by die KKNK opgevoer en vir ’n Fiesta-prys benoem vir beste nuutgeskepte Afrikaanse produksie. Hy werk van die huis af as taalpraktisyn, skryf rolprentresensies en artikels vir tydskrifte en koerante, versamel CD’s, Blu-Rays en DVD’s en het natuurlik die belangriker, voltydse taak om na sy kat-
te Emma, Fernando, Katinka en Rosebud om te sien. Hy komponeer ook liedjies.

Program :François Bloemhof
08:15    Registrasie (koffie en beskuit)
09:00    Opening en verwelkoming
09:05    Skrywers 2012-prysoorhandiging
(Voorlesing van uittreksels uit weninskrywings)
09:20    Module 1 –  Wat is ’n spanningsverhaal, en wat is dit nié?
Module 2 – Algemene skryfbeginsels, tipiese probleme,vind ’n storie
11:15    Tee/ Koffie (en ‘n eetdingetjie)
11:30    Module 3 – Konsepontwikkeling/Beplanning/Karakters
13:00    Ligte middagete
13:45    Module 4 – Skryf en redigeer
14:50    Bedankings / Evaluasie
15:00   Afsluiting

Tee/ koffie met verversings en ’n middagete is by die bywoningskoste ingesluit (spysenier: mev. A. Heunis).
Boeke sal te koop wees by die Protea Boeke-uitstalling.

NAVRAE:  

Mej. Lelani Fourie (sekretaresse/ tesourier): Sel. 0733883377
Elektroniese navraag:        Stuur epos na bloemsv@gmail.com
Faksnommer (vir ontvang van fakse) 0866028047

BAIE DANKIE AAN:

AFRIFORUM vir die borgskap van die Slypskoolaanbieder
Die Fakulteit Geesteswetenskappe , UV vir die lêers en skryfbehoeftes.