Temas vir Skrywers 2016 bekend gemaak

Die nuwe BSV-jaar beloof om in 2016 weer vele hoogtepunte op te lewer, met die Nasionale BSV-Skryfwedstryd 2016 wat weer geborg word deur die Fakulteit Geesteswetenskappe van die Universiteit van die Vrystaat, hierdie keer met ’n hele R18 000 prysgeld. Hier onder volg die temas vir dié wedstryd:

SKOLE: Junior Afdeling  (AJ)

  1. Spek en eiers op Mars.
  2. Wanneer Kersvader sy geskenke vergeet …
  3. “Aardbewoners, ons kom in vrede!”
  4. Die boomhuis.
  5. Die St. Bernard-skoothond.
  6. Hompie Kedompie se laaste dag.

 

SKOLE: Senior Afdeling (AS)

  1. Agter die masker.
  2. Daardie winkelpop lééf!
  3. Die gesig van armoede.
  4. Blikbrein.
  5. Moderne sprokie(s).
  6. Geheim van die delwersdorp-museum.

 

OPE: Afdeling B – Ongepubliseerd

  1. Klokke in die vallei.
  2. ‘n Seilskip genaamd “Die Seeheks”.
  3. Versoek uit die graf.
  4. Koevert agter die skildery.
  5. Familievloek.
  6. Visstok- en katrolstaaltjies.

 

OPE: Afdeling C – Gepubliseerd

  1. Joernalis aan die oorlogsfront.
  2. Die bloed in my joernaal.
  3. Die duiwel is in die fynskrif.
  4. Die waarheid van die mite.
  5. Nuwe blomme op ‘n ou graf.
  6. Wat het geword van Vlug SAA9895?

 

OPE & SKOLE: Afdeling D & DS – Poësie

  1. Eie keuse.
  2. Die spel van lig en skadu.
  3. Droogte.
  4. Fyn porselein.
  5. Identiteit.
  6. Waar meteoriete verskiet.
Advertisements

Wenners van Nasionale Skryfwedstryd van Die Bloemfonteinse Skrywersvereniging, Skrywers 2015 is bekend!

Die Bloemfonteinse Skrywersvereniging (BSV) se jaarlikse nasionale skryfwedstryd, Skrywers 2015, vanjaar weer geborg deur die Fakulteit Geesteswetenskappe van die Universiteit van die Vrystaat en gedeeltelik geadministreer deur die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (Naln), het vanjaar die derde meeste inskrywings ooit (kort onder ‘n duisend) uit alle provinsies van Suid-Afrika en van oorsee gelok, wat dui op die nasionale en selfs internasionale profiel van die skryfwedstryd. Volgens Corlietha Swart, voorsitter van die Bloemfonteinse Skrywersvereniging (BSV), is dit bemoedigend om te ervaar hoe die getal deelnemers aan hierdie tradisieryke Afrikaanse skryfwedstryd, wat al sedert 1979 jaarliks gereël word, bly styg – veral die skole- en studentegetalle. Dit is duidelik dat hierdie skryfwedstryd ’n baie belangrike bydrae lewer om ’n belangstelling in kreatiewe skryfkuns in Afrikaans onder oud en jonk te bevorder. Die BSV kan met trots terugkyk na ’n hele lys gerekende en bekroonde skrywers wie se sluimerende skryftalent aanvanklik deur die BSV-skryfwedstryd uitgewys en daarna met ’n slypskool ontwikkel is.

 

Altesaam R15 000 se pryse is vanjaar deur die Fakulteit Geesteswetenskappe van die UV uitgeloof en vyf BSV-wisseltrofeë vir skole was op die spel. Hoërskool D.F. Malan het vanjaar vier wisseltrofeë, asook die prys vir die skool met die meeste inskrywings, ingepalm – ’n jarelange rekord waarop hul trots is en wat moeilik deur ander skole geëwenaar gaan word met Lara de Bruijn, gr. 12 van Hoërskool D.F. Malan, as die algehele skole-prosawenner. Hoërskool Jim Fouché, Bloemfontein het, soos verlede jaar, die Poësie-skoletrofee ingepalm met ’n eerste en tweede plek vir Jemima Meyer (gr. 12) in poësie. Die aanmoedigingsprys vir Niemoedertaalsprekers is verower deur die Xhosasprekende Thandolwethu Gulwa van Oranje Meisieskool, Bloemfontein (gr. 12) met haar mooi suiwer Afrikaanse taalgebruik. ’n Ongewone prestasie is dat die veelsydige mnr. Leunis van Rooyen van Brixton in beide Prosa (vir reeds-gepubliseerdes), sowel as in Poësie in die Ope-afdeling pryse verower het.

Al die bekroonde inskrywings en ook die beoordelaarsverslae sal in Inkvars 2015, wat spog met ‘n voorbladontwerp van Fanie Viljoen (kunstenaar en skrywer van Bloemfontein), gebundel word en op 22 Augustus 2015 bekendgestel word wanneer die pryse tydens die BSV se jaarlikse Slypskool vir Ontluikende Skrywers, gedeeltelik geborg deur Afriforum, by Noorderbloem in Bloemfontein oorhandig word. Benewens die prysgeld en trofeë, kan die skryfwedstrydwenners ’n daglange slypskool onder leiding van die veelbekroonde en –vertaalde skrywer, Deon Meyer as deel van hul prys gratis bywoon. Beskikbare plekke vir die publiek is alreeds besig om vinnig minder te word. Belangstellendes wat die slypskool (ete en verversings ingesluit) teen R300 wil bywoon (BSV-lede betaal R160, ook as hul op slypskooldag as lid aansluit), kan gerus vir Lelani Fourie (BSV-sekretaresse) by bloemsv@gmail.com of sel. 0733883377 kontak. Inkvars 2015 kan ook hier bestel word teen R90 per eksemplaar.

 

Wenners van die BSV se “Skrywers 2015” is:

 

SKOLE-AFDELING (A):

JUNIOR AFDELING (gr. 8 en 9):

1ste (R1200) en trofee: Suné van Dyk, gr. 9, Hoërskool D.F. Malan, Bellville.

2de (R700):                  Jana Fauré, gr. 9, Hoërskool D.F. Malan, Bellville.

3de (R400):                  Liza Hugo, gr. 9, Hoërskool D.F. Malan, Bellville.

Eervol vermeld:            Lamé van Zyl, gr. 9, Hoërskool D.F. Malan, Bellville.

 

SENIOR AFDELING (gr. 10 – 12):

1ste (R1 400) en trofee: Lara de Bruijn, gr. 12, Hoërskool D.F. Malan, Bellville.

2de (R800):                   Christi Barkema, gr. 10, Hoërskool D.F. Malan, Bellville.

3de (R500):                    Alex Galhardo, gr. 11, Hoërskool D.F. Malan, Bellville.

Eervol vermeld:            Irene Saunders, gr. 10, Hoërskool Outeniqua, George.

 

AANMOEDIGINGSPRYS (Niemoedertaalsprekers):

Slypskoolbywoning en R300: Thandolwethu Gulwa, (Moedertaal: Xhosa), Gr. 12, Oranje Meisieskool, Bloemfontein.

 

ALGEHELE SKOLE-PROSAWENNER: Lara de Bruijn, gr. 12, Hoërskool D.F. Malan, Bellville.

 

OPE AFDELING DS (Poësie Skole):

1ste (R1 400) en trofee: Jemima Meyer van Hoërskool Jim Fouché, Bloemfontein.

2de (R700):    Jemima Meyer van Hoërskool Jim Fouché, Bloemfontein.

 

OPE AFDELING B (Nog nie voorheen gepubliseer teen vergoeding nie):

1ste (R1400) en trofee: Mev. Edna Taljaard, Ekklesia.

2 de (R800):                 Mev. Ilse Smalberger, Kimberley.

Eervol vermeld:            Mnr. Sidney Gilroy, Meyerton.

 

OPE AFDELING C (Voorheen gepubliseer teen vergoeding):

1ste (R1 400) en trofee: Mnr. Leunis van Rooyen, Brixton.

2de (R800):                 Mev. Hanté du Toit, Bainsvlei, Bloemfontein.

Eervol vermeld:            Mnr. Leunis van Rooyen, Brixton.

 

OPE AFDELING D (Poësie):

1ste (R1 400) en trofee: Mev. Lisa Deysel, Centurion.

2de (R800):      Mnr. Leunis van Rooyen, Brixton.

Eervol vermeld – 2 gedigte:  Mnr. Leunis van Rooyen, Brixton.

 

TROFEË:

HAUM-Literêr-trofee vir skool van wenner in Junior Afdeling: Hoërskool D.F. Malan, Bellville.

Olivier-wisseltrofee vir skool van wenner in Senior Afdeling: Hoërskool D.F. Malan, Bellville.

Gerhard Beukes-wisseltrofee vir skool van algehele skolewenner: Hoërskool D.F. Malan, Bellville.

Vrystaat-wisseltrofee vir skool met meeste inskrywings (plus R1 000): Hoërskool D.F. Malan, Bellville.

Poësie Skoletrofee vir skool van wenner in poësie: Hoërskool Jim Fouché, Bloemfontein.

Wisseltrofeë vir die drie Ope-afdelings word ook aan individuele eerstepryswenners toegeken.

Chanette Paul Slypskool

Chanette Paul Die Bloemfonteinse skrywersvereniging se jaarlikse slypskool word hierdie jaar op 23 Augustus 2014 deur Chanette Paul aangebied. Chanette is vir die laaste twee jaar aangewys was die Lekkerlit-skrywer van die jaar.

Om te bespreek stuur ‘n e-pos aan Lelani Fourie by bloemsv@gmail.com of kontak haar by 0733883377.

Meer oor Chanette;

Chanette Paul word rond en bont groot. Haar eerste skryfsukses kom op sestien, naamlik ’n sprokie wat op Siembamba voorgelees is, en in haar universiteitsjare word ’n kortverhaal in Huisgenoot gepubliseer. Eers twintig jaar later, gee sy weer aandag aan haar skryfwerk. Sedertdien is ’n verskeidenheid verhale en humorartikels, en vier en dertig boeke gepubliseer. Benewens ’n MA-graad in Afrikaanse en Nederlandse Letterkunde (1988), verwerf sy ook in 2003 ’n MA-graad in Skeppende Skryfwerk onder leiding van prof. Etienne van Heerden. Vir haar debuutromanse ontvang sy Perskor se prys vir beste romantiese fiksie. In 1999 en 2006 is Wip van die droomvanger en Leila word lig onderskeidelik finaliste vir die ATKV-Prosaprys, en in 2010 is die derde Gys Niemand-boek, Boheem, finalis vir die ATKV se Woordveertjies in die spanningsromankategorie. Met die eerste in die Gys Niemand-reeks, Springgety, betree Chanette die spanningsmark in alles erns en dit bring ’n waterskeiding in haar skryfwerk mee. Dis nie die eerste keer dat sy haar in ’n nuwe genre begewe nie, maar die skryf van spanningsromans was ’n ingrypende koersverandering. Chanette woon die afgelope paar jaar in die Overberg waar sy met allerlei storiedinge bedrywig is. Besoek haar webwerf by http://www.chanettepaul.co.za en gesels met haar op haar blog: http://chanettepaul.wordpress.com