2013 Leon van Nierop

prof. Leon van Nierop
prof. Leon van Nierop

Die Bloemfonteinse Skrywersvereniging se jaarlikse Slypskool vir Ontluikende Skrywers vind vanjaar op Saterdag, 24 Augustus 2013 in die Ouditorium van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN) plaas. Die welbekende  filmresensent,  verhaleredakteur, skrywer, akademikus en radiopersoonlikheid, prof. Leon van Nierop, lei die daglange slypskool (geborg deur Afriforum). Hy is onder andere die skrywer van radio- en TV-reekse soos Ballade vir ‘n Enkeling, Wolwedans in die Skemer, Stralerjakkers, Herberg vir ‘n Vlugteling, ensovoorts en  is bekroon vir vele van sy 26 romans. Temas in kreatiewe skryf waaraan hy aandag gaan gee, is die storie, karakters, konflik, versperrings, ekonomie, herskrywing, algemene skryfwenke en analise van eie skryfwerk. Die koste vir slypskoolgangers, wat nie BSV-lede is nie, is R250, terwyl lede (ook diegene wat op daardie dag by die BSV aansluit,  ‘n skamele R130 vir die dag betaal (ete  en verversings ingesluit). Tydens hierdie geleentheid word die wenners van die BSV se landswye skryfwedstryd, wat net onder ‘n duisend inskrywings , selfs van oorsee gegenereer het,  bekroon. Die kompetisie is geborg deur die Fakulteit Geesteswetenskappe van UV. Die publikasie, Inkvars (geborg deur die Stichting tot bevordering van Culturele Betrekkingen, Nederland/Zuid- Afrika)  word dan ook bekendgestel, waarin al die weninskrywings van die verskillende kategorieë van die skryfwedstryd saam met die beoordelaarsverslae gebundel is as ‘n nuttige hulpmiddel vir voornemende skrywers, of vir gebruik in stelwerkklasse in skole.
Die BSV borg graag jaarliks een slypskoolganger wat ‘n aanleg vir kreatiewe skryf toon, maar nie die finansiële vermoë het om die slypskool by te woon nie. Indien u  van so ‘n persoon bewus is, stuur asb. volle besonderhede van die kandidaat vir die 2013-beurs saam met ‘n kort voorbeeld van sy/ haar skryfwerk na bloemsv@gmail.com . Om u plek te reserveer vir die slypskool, skakel gerus ons sekretaresse/tesourier, mej. Lelani Fourie by 0733883377, of besoek ons webwerf by bloemsv.wordpress.com vir elektroniese inskrywingsvorms of bestellings vir Inkvars. Net ‘n beperkte aantal mense kan die slypskool bywoon en die beskikbare plekke vlieg behoorlik. Bespreek dadelik om teleurstelling te voorkom!

Persoonlike Besonderhede : Prof. Leon van Nierop
Leon van Nierop begin as omroeper-regisseur by die SAUK in 1975 en werk vanaf 1983 as TV-draaiboek-redakteur. Hy onderskei hom as regisseur en skrywer van radio- en TV-reekse soos Wolwedans in die Skemer, Ballade vir ’n Enkeling, Die Huis in Hertestraat en Stralerjakkers wat ook op kykNET uitgesaai is. Hy het talle jarelange vervolgverhale soos Herberg vir ‘n Vlugteling en Nag van die Strandloper vir radio geskryf.

Hy doen rolprentresensies vir GMSA en Pasella op TV 1. Hy het ook 26 romans geskryf waaronder VUURVRETER, (genomineer vir ‘n ATKVeertjie as beste spanningsverhaal) VERKLIKKER, INSOMNIA en SNYDOKTER wat  binne 3 weke die vierde posisie op die algehele Suid-Afrikaanse en Internasionale Top 40 boeke behaal het, asook ’n kabaret, Girly se storie, wat by kunstefeeste opgevoer is.

Hy skryf al 38 jaar resensies vir verskeie publikasies soos (sedert 2002) Huisgenoot, You, Drum,  Daily Sun, DEKAT, Rapport, Vrouekeur, Lig en Citizen. Hy was vir 2 jaar lank verhaleredakteur van Vrouekeur.

Hy was vir 4 jaar lank professor in film en hoof van die FILMSKOOL by TUT en het film vir 20 jaar gedoseer. Hy skryf  2 boeke oor rolprent-waardering: SEEING SENSE ON FILM ANALYSIS en MOVIES MADE EASY.  Hy is vryskut-omroeper en nuusleser asook dramaregisseur en skrywer by RSG. Hy doen MONITOR se rolprentresensies al vir 20 jaar en skryf al 5 jaar lank RSG se jeugvervolgverhaal RATELS. Dit het pas as roman verskyn. Hy was ook mede-vervaardiger en aanbieder van DEKAT TV op SABC 3.  Sy jongste roman, die erotiese drama PLESIERENGEL verskyn in Augustus. Dit beteken Leon het 4 romans binne 9 maande gepubliseer. Hy wen die Caxton-toekenning twee keer as beste skrywer in 2009 en 2011, en is die naaswenner in die Sanlam-radiodramaskrywerskompetisie vir TWYFELBERG. Hy word deur die ATKV bekroon as beste radio-regisseur in 2010, en wen in 2011 nog ‘n  ATKVeertjie vir beste dokumentêre program oor Die Afrikaanse rolprent.

Sy TV-reeks oor die geskiedenis van die Afrikaanse rolprent Daar doer in die Fliek is onlangs op kykNET uitgesaai en hy skiet tans aan ‘n vervolg. Sy draaiboek vir WOLWEDANS IN DIE SKEMER is verfilm en die rolprent het R4,3 miljoen verdien. Dit het ook as roman verskyn en is as radioverhaal heropgevoer. Hy skryf tans aan ‘n rolprentdraaiboek en ‘n nuwe roman.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s