Hilda A. Smits die bome reusagtig soos ons was , Protea Boekehuis, (2016)

gibsonfotoHilda Smits is al sedert 2009 ‘n gereelde wenner van die poësie-afdeling van die Bloemfonteinse Skrywersvereniging se jaarlikse tradisieryke Nasionale BSV-Skryfwedstryd waarvan die posstukke gedeeltelik deur NALN geadministreer word, ‘n skryfwedstryd wat al sedert 1979 bestaan en deesdae geborg word deur die Fakulteit Geesteswetenskappe van die Universiteit van die Vrystaat. Onlangse beoordelaars van die poësie-afdeling  was die digters, dr. Gilbert Gibson en prof. Dave Lubbe. Hulle het Hilda elke jaar wat sy deelgeneem het, as algehele poësiewenner aangewys – en dit op anonieme beoordeling! Haar wengedigte het in die BSV-publikasies, Inkvars 2009 (terugblik), Inkvars 2011 (die nag se honger kHilda Smitsakebeen kraak oop) en Inkvars 2014 (dit is moeilik) verskyn. Die eerste twee jaar het Hilda uit Londen en die laaste jaar uit  Nashville, VSA deelgeneem. Inkvars word jaarlikse geborg deur die Stichting tot Bevordering van Culturele Betrekkingen Nederland Zuid Afrika en bevat al die spesifieke jaar se weninskrywings wat uit ongeveer 1000 inskrywings jaarliks vanoor die hele land aangewys word en gewild is onder stelwerkonderwysers omdat die publikasie ook beoordelaarsverslae bevat. Hierdie kompetisie het al vele suksesverhale opgelewer van deelnemers wat bekroon is, selfs as skoolkinders en wat toe die slypskool as deel van hul prys bygewoon het en kort daarna  gedebuteer het. Dit sluit bekende skrywers in, soos die kinderboekskrywers, Jaco Jacobs, Fanie Viljoen en Carina Diedericks-Hugo, digter Carina Stander, rillerskrywer en radiodramawenner Piet Steyn, en prosaïste soos Dirk Winterbach, Sonja Loots, Japie Bogaards en niefiksieskrywers, soos Ode Krige, om maar net ‘n paar te noem. En nou ook  die belowende digter, Hilda Smits.
Sedert Hilda se eerste  sege in 2009, toe haar moeder in haar afwesigheid haar trofee en prysgeld in ontvangs geneem het tydens die jaarlikse BSV-slypskool, het Corlietha Swart as BSV-voorsitter en dr. Gilbert Gibson as BSV-poësiebeoordelaar gereeld met Hilda per e-pos oorsee kontak gehou en haar voortdurend aangemoedig om te debuteer.
Wel, hier is haar debuut nou, ‘n vars nuwe stem in die poësie-akker: Hilda A. Smits se “die bome reusagtig soos ons was”, Protea Boekehuis (2016). Boonop het Hilda besluit om Bloemfontein te besoek en ewe beskeie met die BSV  kontak gemaak en gevra of sy ‘n paar van haar gedigte ter bekendstelling van haar bundel aan die BSV-lede kan kom voorlees.  Waarmee Hilda egter nie rekening gehou het nie, was dat die literêre wêreld onmiddellik begin gons het toe haar debuut op die rakke verskyn het, met onderhoude wat met haar gevoer is op Litnet, positiewe resensies van onder andere gerekende resensente soos prof. Joan Hambidge en voorlesings van haar gedigte op die nasionale radiosender, RSG. Bloemfontein bied vir Hilda Smits die ideale podium om haar wonderlike Afrikaanse verskuns op die mees geskikte plek ter wêreld, die ouditorium van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN), te lanseer, ‘n kopie van haar bundel aan die museum te skenk en sodoende haar skrywersprofiel as opwindende nuwe digterstem in Afrikaans te  vestig. Boonop is Elizabeth Eybers se uitstalling, na haar versameling onlangs uit Nederland in Bloemfontein aangekom het, nog tot op daardie dag in die ouditorium te siene – die ideale agtergrond vir die nuwe (expat)-digterstem van Hilda Smits wat ook uit die buiteland in die pragtigste Afrikaans bly dig. Hierdie bekendstellingsgeleentheid vind plaas op Saterdag, 9 Mei 2016 om 9:00 in die NALN-ouditorium (parkering uit Elizabethstraat). Dis ‘n ko-projek van die Bloemfonteinse Skrywersvereniging, NALN en die Vriende van NALN. Die digter en BSV-beoordelaar,  dr. Gilbert Gibson, sal in gesprek tree met Hilda Smits en sy sal self van haar gedigte voorlees en agterna boeke teken. Protea Boeke sal ook van haar debuut en ander digters se digbundels tydens die geleentheid te koop aanbied. Tydens teetyd is aanwesiges ook welkom om die gewilde NALN-kelderboekemark vir spotgoedkoop tweedehandse boeke te besoek, of deur die museum, wat die Afrikaans letterkunde  in sy geheel as tema het, te wandel. Die publiek, BSV-lede en Vriende van NALN wat die geleentheid wil bywoon, kan bevestig by Corlietha Swart (BSV-voorsitter) by micos@telkomsa.net of by Annelien Diedericks (NALN) by vriendevannaln@gmail.com

Skrywers 2016 Inskrywingsvorms, Reëls & Regulasies

Oogmerk

 

Met hierdie wedstryd, wat al sedert 1979 jaarliks gereël word, wil die Bloemfonteinse Skrywersvereniging (BSV) die skeppende woord- en skryfkuns in Afrikaans bevorder. (Om dit ook onder mense wat ’n ander moedertaal as Afrikaans het te bevorder, bied ons aan deelnemers die geleentheid om aan te dui of hulle hul as behorende tot hierdie groep beskou. Die beoordeling word steeds anoniem op grond van literêre meriete gedoen, maar addisionele aanmoedigingspryse word vir verdienstelike inskrywings uit hierdie groepe in Afdeling A toegeken.)

 

Reëls en Regulasies

 

  1. Sluitingsdatum: Vrydag, 13 Mei 2016
  2. Slegs inskrywings in AFRIKAANS word aanvaar.
  3. In die Skole-afdeling moet inskrywings HOOGSTENS 1 000 woorde wees. In die Ope Afdeling HOOGSTENS 2 500 woorde. Gedigte mag nie 40 reëls oorskry nie.
  4. Dieselfde persoon mag oor meer as een onderwerp skryf en mag oor dieselfde onderwerp meer as een inskrywing instuur.
  5. Enige getal leerders van ’n skool mag deelneem.
  6. Enige skool wat ’n groot hoeveelheid inskrywings stuur MOET asseblief skakel om te verneem of die inskrywings hul bestemming bereik het.
  7. Kragtens die Wet op Outeursreg is enige vorm van plagiaat ’n strafbare, kriminele oortreding.
  8. Bestuurslede van die BSV en die beoordeelaars, asook hul gesinslede, mag nie deelneem nie.
  9. Geen kommentaar word op individuele inskrywings gelewer nie.
  10. Die BSV behou die reg voor om alle inskrywings drie maande ná bekendmaking van die wenners te vernietig.
  11. Deelnemers in die Skole Afdeling mag ook vir die Ope Afdeling inskryf (om natuurlik op gelyke voet met daardie afdeling se deelnemers te kompeteer.) Dieselfde inskrywing mag egter nie vir verskillende afdelings gebruik word nie.
  12. Die uitslag sal nie later nie as Maandag, 20 Junie 2016 eers telefonies en dan per brief aan die wenners bekend gemaak word. Die media sal ook van die uitslag verwittig word.
  13. Pryse word op 20 Augustus 2016 tydens die jaarlikse BSV Slypskool vir Ontluikende Skrywers in Bloemfontein oorhandig.
  14. Alle inskrywings word VOLKOME ANONIEM deur ’n paneel bevoegde beoordelaars beoordeel
  15. Slegs die deelnemer se SKUILNAAM mag op die manuskrip verskyn.
  16. Die beoordelaars se beslissing is finaal en geen briefwisseling word hieroor gevoer nie.
  17. Pryse word slegs toegeken as die gehalte dit regverdig.
  18. Die weninskrywings sal in ’n bundel, INKVARS 2016, opgeneem word. Die publikasie word deur die Bloemfonteinse Skrywersvereniging self gedra en sal tydens die BSV se jaarlikse slypskool bekendgestel en te koop aangebied word. (Benewens die reg tot opname – sonder vergoeding in hierdie bundel – berus die outeursreg volledig by die outeur.)
  19. Pryswenners, ook dié wat net eervol vermeld is, woon die BSV se jaarlikse Slypskool vir Ontluikende Skrywers in Bloemfontein (op 20 Augustus 2016) gratis
  20. Alle inskrywings moet in REKENAARDRUK / GETIK wees, in dubbelspasiëring op A4-grootte papier.
  21. Geen inskrywings per faks of e-pos sal oorweeg word nie.
  22. Bladsye moet links bo gekram wees.
  23. Inskrywings moet van ’n amptelike inskrywingsvorm vergesel wees. (’n Fotostaat of ander volledige kopie is ook aanvaarbaar.)
  24. Die inskrywingsvorm moet VOLLEDIG voltooi word. Één inskrywingsvorm kan vir ’n aantal deelnemers se inskrywings gebruik word
  25. In die Skole-afdeling moet die skool se amptelike stempel op elke inskrywingsvorms (LW: NIE OP DIE MANUSKRIPTE SELF NIE) verskyn. Geen stempel word in die Ope Afdelings vereis nie.
  26. Elke inskrywing moet ’n titelbladsy hê waarop SLEGS die onderwerp en die SKUILNAAM van die deelnemer verskyn. Hierdie besonderhede kom ook op die inskrywingsvorm, wat die enigste plek is waar die deelnemer se werklike naam verstrek word (sodat die beoordelingsproses volkome anoniem kan plaasvind.
  27. Elke inskrywing moet van inskrywingsgeld ten bedrae van R10 (TIEN RAND) vir skoliere en R20 (TWINTIG RAND) vir volwassenes vergesel wees.
  28. ’n Skool mag ’n gesamentlike betaling vir al sy inskrywings doen. Betaling kan op een van die volgende twee wyses geskied. (LW: Donasiekoepons,Kontant of posorders is nie aanvaarbaar nie):
    1. TJEKS: Tjeks word uitgemaak aan: DIE BLOEMFONTEINSE SKRYWERSVERENIGING, en word saam met die inskrywing(s) versend.
    2. DIREKTE INBETALINGS: Die geld word direk op die BSV se wedstrydrekening inbetaal en ’n fotostaat van die inbetalingstrokie word saam met die inskrywing(s) versend – terwyl die afsender die oorspronklike vir kontroledoeleindes bewaar.

 

 

ADRES VIR INSKRYWINGS:

Inskrywings vir die wedstryd word na die volgende adres gestuur om hul bestemming voor Vrydag,13 Mei 2016 te bereik:

 

Skrywers 2016

p.a. NALN

Privaatsak X20543

BLOEMFONTEIN

9300

 

GEEN GEREGISTREERDE POSSTUKKE SAL AANVAAR WORD NIE.

 

NAVRAE:

Geen inligting oor die wedstryd kan ongelukkig gefaks word nie. Vir telefoniese navrae kan die volgende Bestuurslid van die BSV geskakel word:

 

Mej. Lelani Fourie by 0733883377

 

Internetnavrae:

Stuur e-pos aan: bloemsv@gmail.com

 

BANKBESONDERHEDE:

 

Naam van rekening: Die Bloemfonteinse Skrywersvereniging

Bank en Tak: ABSA, Brandwag, Bloemfontein

Takkode: 334-334

Rekeningnommer: 38016331772

Verrekeningskode: 632005

 

NB: Die naam van die skool en/of persoon wat die geld deponeer MOET ingevoeg word en duidelik op die depositostrokie leesbaar wees. By elektronies oorbetalings, gebruik naam as verwysing

BSV Skryfwedstrydpamflet 2016

Inskrywingsvorm 2016 Jnr & Snr

Inskrywingsvorm 2016 ope afdelings

Temas vir Skrywers 2016 bekend gemaak

Die nuwe BSV-jaar beloof om in 2016 weer vele hoogtepunte op te lewer, met die Nasionale BSV-Skryfwedstryd 2016 wat weer geborg word deur die Fakulteit Geesteswetenskappe van die Universiteit van die Vrystaat, hierdie keer met ’n hele R18 000 prysgeld. Hier onder volg die temas vir dié wedstryd:

SKOLE: Junior Afdeling  (AJ)

  1. Spek en eiers op Mars.
  2. Wanneer Kersvader sy geskenke vergeet …
  3. “Aardbewoners, ons kom in vrede!”
  4. Die boomhuis.
  5. Die St. Bernard-skoothond.
  6. Hompie Kedompie se laaste dag.

 

SKOLE: Senior Afdeling (AS)

  1. Agter die masker.
  2. Daardie winkelpop lééf!
  3. Die gesig van armoede.
  4. Blikbrein.
  5. Moderne sprokie(s).
  6. Geheim van die delwersdorp-museum.

 

OPE: Afdeling B – Ongepubliseerd

  1. Klokke in die vallei.
  2. ‘n Seilskip genaamd “Die Seeheks”.
  3. Versoek uit die graf.
  4. Koevert agter die skildery.
  5. Familievloek.
  6. Visstok- en katrolstaaltjies.

 

OPE: Afdeling C – Gepubliseerd

  1. Joernalis aan die oorlogsfront.
  2. Die bloed in my joernaal.
  3. Die duiwel is in die fynskrif.
  4. Die waarheid van die mite.
  5. Nuwe blomme op ‘n ou graf.
  6. Wat het geword van Vlug SAA9895?

 

OPE & SKOLE: Afdeling D & DS – Poësie

  1. Eie keuse.
  2. Die spel van lig en skadu.
  3. Droogte.
  4. Fyn porselein.
  5. Identiteit.
  6. Waar meteoriete verskiet.

Bestuur vir 2016 verkies tydens die Algemene Jaarvergadering van die Bloemfonteinse Skrywersvereniging

Voor, van links na regs: Lelani Fourie (Tesourier/sekretaresse), dr. Douwlina du Plessis (Ondervoorsitter) en Corlietha Swart (Voorsitter: BSV – Nov. 2008 - 2016).  Agter, van links na regs: Karen van Vuuren, Joe Mynhardt en Ronelle Meyer (bestuurslede).
Voor, van links na regs: Lelani Fourie (Tesourier/sekretaresse), dr. Douwlina du Plessis (Ondervoorsitter) en Corlietha Swart (Voorsitter: BSV – Nov. 2008 – 2016).
Agter, van links na regs: Karen van Vuuren, Joe Mynhardt en Ronelle Meyer (bestuurslede).

Die nuwe BSV-jaar beloof om in 2016 weer vele hoogtepunte op te lewer, met die Nasionale BSV-Skryfwedstryd 2016 wat weer geborg word deur die Fakulteit Geesteswetenskappe van die Universiteit van die Vrystaat, hierdie keer met ’n hele R18 000 prysgeld, asook die Nasionale BSV-Slypskool op Saterdag, 20 Augustus 2016, met die dinamiese digter, resensent en akademikus, prof. Joan Hambidge, as BSV-Slypskoolaanbieder 2016! Dis nou hoogtepunte buiten vir twee BSV-publikasies waarin lede en skryfwedstrydwenners se skryfstukke jaarliks in druk verskyn, asook die gewone agt jaarlikse byeenkomste waarin BSV-lede vanoor die hele land deur middel van skryfopdragte, interessante sprekers en voorlees-en-slypsessies (vir diegene wat geografies naby bly en byeenkomste kan bywoon) hul skryfvaardighede voortdurend kan slyp en hul selfs vir uitsonderlike prestasies vereer kan word by die prysaand (hou gerus die BSV-webwerf en BSV-Facebook dop vir die jaarprogram en meer inligting).

Digters en skrywers word genooi om gerus nou reeds die slypskooldatum rooi op die nuwe 2016-kalender te omkring, want, gegewe die profiel en gewildheid van prof. Joan Hambidge as slypskoolaanbieder, gaan die beskikbare slypskoolplekke beslis vlieg! Hou gerus ook die BSV-webwerf dop vir 2016 se BSV-Skryfwedstrydonderwerpe – weens veranderde skolesillabusse en om skole genoeg tyd vir deelname te gee, het die BSV-bestuur in November reeds tydens ’n tema-aand die skryfwedstrydonderwerpe gefinaliseer vir 2016 se skryfwedstryd en sal dit binnekort op die BSV-webwerf bekendgestel word sodat leerders, studente en volwasse deelnemers rustig reeds in die Desembervakansie (op die strand) kan begin skryf aan hul wenverhale of –gedigte.

Otto Liebenberg – aftrede Augustus 2015

Huldigingsbydrae gelewer deur Corlietha Swart (o.a. namens die bestuur van Die Vriende van NALN)
Ek ken Otto Liebenberg al van 1988 af. Ek praat vandag hier as verteenwoordiger van die bestuur van die herstigte Vriende van NALN (dit is so belangrik, eintlik onontbeerlik vir die koestering van die instansie dat ‘n museum en navorsingsentrum se Vriendevereniging as verteenwoordiger van belanghebbers, intakt is). Maar ek het ook ‘n paar ander hoede vanoggend op. As verteenwoordiger van die Bloemfonteinse Skrywersvereniging wat al ‘n uiters noue vennootskap van in die 40 jaar met NALN gehad het en steeds het – met Otto wat vir jare Ondervoorsitter sekretaris en penningmeester van die BSV-bestuur was, die Boekemarkvennootskap tussen die BSV en NALN en die landwye BSV-skryfwedstryd wat steeds gedeeltelik deur NALN geadministreer word. Ek vertrou dat hierdie BSV-NALN-vennootskap, eintlik meer ‘n vriendskap, sal voortgaan, want dis voordelig vir beide instansies; ook het ek die hoed van Dames Perspektief op – met literêre bustoere en wonderlike programme; ek dra ook die hoed van navorser o.a. oor Von Wiellligh, Langenhoven, maar veral oor NALN, die hoed van akademikus en kultuurmens wat by vele aktiwiteite in die ouditorium betrokke is en wat universiteitstudente hiernatoe gebring het met wonderlike programme wat deur Otto, Leana, Sanette, Erika en andere in hierdie einste ouditorium en museum oor jare aangebied is… Selfs skattejagte met Paaseiers, spookstorie-aande, pragtige musiek, kuns… Kortom – NALN was oor jare balsem vir die siel. Kyk maar vandag om u rond in hierdie historiese ouditorium van NALN waarin ons ons nou bevind. Wat ervaar u op hierdie oomblik hierbinne? Met die aanstap het ek alreeds Afrikaanse kunsliedere en musiek gehoor en pas ook Sotholiedere en Plea for Africa. Kyk om u rond na al die skilderye, foto’s van skrywers, die boeke, die baniere van toneel- en filmwese, u hoor mense in die pragtigste taalrykheid praat, u hoor vanoggend gedigte … Dit laat my aan die gelaagdheid van ‘n ui dink. U weet tog almal hoe ‘n “ui” lyk. Buiten die feit dat ‘n ui jou kan laat huil, herinner hierdie gelaagdheid van kultuur, wat tasbaar is in die ryke omgewing van die ouditorium vanoggend – taal, prosa, poësie, drama, musiek, kultuur, laag op laag op laag, my aan ‘n ui met al sy lagies. Elke millimeter van NALN spel ‘n oorweldigende kulturele rykdom. En in ‘n groot mate is dit aan hierdie begaafde man, Otto Liebenberg se leiding en visie te danke. En sy geloof, want alles wat Otto doen, ook sy onsekerhede, doen hy verankerd in ‘n baie sterk geloof. As daar nie uitkoms is nie, is Otto die een wat glo dat daar ‘n oplossing van Bo deur die nag voorsien sal word. Amper ‘n soort kinderlike geloof – ‘n geloof wat nog altyd dividende afgewerp het. Otto, ek gee jou nooit pluimpies nie, en jy sal dit maar een maal in jou lewe uit my mond moet aanhoor en verduur, en dis vandag met jou aftrede … Otto is een van die begaafdste mense met die skerpste intellek wat ek ken (vir ‘n akademikus wat daagliks by die universiteit omring is deur doktore, professore en gegradueerdes, kortom, “slim mense”, sê dit baie… Otto is een van die mense met die skerpste ontledende skryfstyl, snydend tot op die been/essensie van ‘n saak met die mooiste woordgebruik, soms met ‘n tikkie outydse sjarme wat rondom die hoeke van sommige woorde huiwer, met die kostelikste woordspelings satire en binnepret, wat ek ken. Amper soos Langenhoven! As jy met jou aftrede nie die pen opneem en kreatief begin skryf nie, sal die leserswêreld nooit in jou denke kan deel nie… En dit sal ‘n enorme verlies vir Afrikaans wees – uit ‘n hele NALN-versameling, wat soos ‘n versamelvoëlnes alle Afrikaanse skrywes van skrywers huisves, sal jy, die mossie van Bloemfontein, van my gunstelingleesstof wees …

Jy staan vandag voor ‘n kruispad: jou aftrede – prof. Nienaber het eers op 77 afgetree – ek hoop dat jy met jou kundigheid, wat jy sedert 1976 met jou aanstelling by NALN kon opbou, op 77-jarige ouderdom steeds NALN se gange sal bewandel. Dis nou as owerhede besef dat, as ‘n ou man doodgaan, ‘n biblioteek afbrand. KUNDIGHEID MAG NIE VERLORE GAAN NIE – kundigheid moet ingespan word!! Otto spel KUNDIGHEID sonder gelyke in die Afrikaanse Literêre wêreld in hierdie land!

Wat sê ‘n mens met sy aftrede vir iemand wat vir kort duskant 40 jaar al vir sóvéél ingeploeg het in die akker van die bewaring van Afrikaanse Letterkunde? Ek weet regtig nie. Wat sê ‘n mens op aftrede vir iemand wat elkeen van sy wakker ure ten volle toegewyd was aan die NALN?  Ek weet werklikwaar nie. Wat sê ‘n mens vir iemand op aftrede – iemand wat selfs oor naweke, sommige Sondae, weeksdae  na-ure, soms  tot spooktyd toe met literêre programme, soms vakansiedae ook, in sy kantoor sit en werk het. Ek weet waarlikwaar nie. Sou jy as jy om een of ander duister rede 051-405-4013 oor ‘n naweek skakel, sou jy doodluiters aan die anderkant van die lyn hoor: ” Hallo, Liebenberg hier,” asof dit die normaalste ding denkbaar is om op ‘n Sondagmiddag  in Suid-Afrika antwoord in ‘n kuratorskantoor van ‘n museum te kry. Wat sê ‘n mens vir iemand op aftrede wat, buiten ‘n ou mistrappie van ‘n leer af hier,  ‘n spierrek doer, of ‘n ou galblasie daar op 65 nog springlewendig, fiks en gesond – en … meestal … by sy volle positiewe  is  en soveel ekspertise in die Afrikaanse letterkunde het om te bied – en, BELANGRIK, kundigheid m.b.t. vertrouensbande bou met Afrikaanse skrywers? Want dit is juis hierdie oorredingsvermoë en bou van goeie betrekkinge met skrywers, musici en toneelmense wat die geheime wapen is van ‘n instansie soos NALN. As jy nie vertroue van die gemeenskap in ‘n instansie kan genereer nie, is so ‘n instansie se voortbestaan gedoem, want insameling van erfenisse en nalatenskappe is daarvan afhanklik – en Otto Liebenberg is, soos prof. Nienaber was, ‘n mééster in dié oorredingskuns. Baie mense is van mening dat prof. Nienaber Otto letterlik met die hand grootgemaak het vir hierdie pos. En hierdie pos het Otto se hele lewe geword. Wat sê ‘n mens dus vir so ‘n meesterkundige as hy moet aftree?  Ek weet sweerlikwaar nie. Ek het ‘n angs in my hart as ek dink dat daar dalk baie binnekort ‘n dag gaan kom dat ek vinnig ‘n insamelingswenk kry (en dit kry ek gereeld weens goeie posisionering in die akademie, of by kultuuraktiwiteite, dat ek ojlnaln@sacr.fs.gov.za gaan tik, of Otto se kantoornommer gaan skakel, of ‘n sms gaan stuur en dat daar niemand anderkant gaan wees om te lees, te luister, die letterkundige wenk op te volg, of die e-poswenk sistematies geïndekseerd, genommer en gedateerd te antwoord nie. Ek het hom al selfs ontydig uit ‘n pandjieswinkel gebel en gesê wat ek voor my sien en dan het hy instruksies gegee oor wat ek moet aanskaf en wat ek kan los en waarvan ek net ‘n foto moet neem. So was ons verstandhouding sedert die laat-tagtigerjare in belang vd Afrikaanse letterkunde. En dit is so ‘n toeganklike MÉNS MENS wat aan NALN se stuur móét staan.

Dalk doodgewoon maar net BAIE DANKIE. Baie dankie namens die Afrikaanse Literêre wêreld. Baie dankie namens elke oorsese, maar ook binnelandse letterkundige en akademikus, waarvan sommiges te lui is om oor die drumpel van NALN as navorser te tree en doodgewoon die foon optel en dit, wat hul nodig het, telefonies van NALN aanvra, of bloot ‘n studente-assistent stuur om dit te kom haal. Baie dankie namens die lewende, maar veral die DOOIE skrywers, toneelmense en musiekmense van wie se erflatings jy, Otto Liebenberg, kuratorskap met soveel verantwoordelikheidsin en deernis aanvaar het oor soveel jare heen. Baie dankie namens die Vriende van NALN, wat ek dan ook vandag hier verteenwoordig, maar ook Baie Dankie namens elke NALN-personeellid, elke departementele verteenwoordiger, namens Abel (saam met wie jy al so ‘n lang en goeie pad stap), baie dankie namens die Bloemfonteinse Skrywersvereniging wat ek ook verteenwoordig, namens Dames Perspektief, namens die Kultuurraad, namens leeskringe, namens skoolkinders en onderwysers, namens elke potensiële skrywer wat al met soveel drome in hul oë die drumpel van NALN betreë het. ‘n Akademikus het op ‘n dag ‘n satiriese gedig aanmekaar geslaan – en Otto het so twee weke gelede daarna verwys tydens die familie-afskeid – dat hy darem in een gedig in die Afrikaanse letterkunde ingeskryf is – die gedig waar daar na prof. Nienaber as bewaarder van die Afrikaanse letterkundige poorte van NALN verwys is en na Otto, wat na prof. Nienaber se aftrede oorgeneem het, as “die tuinkabouter” wat die NALN-gange bewandel. Ek wil vandag daarop repliek lewer. Otto Liebenberg, kurator van NALN, het as sg. “tuinkabouter” ernstiger en met meer sukses en vrug op die taal– en veral letterkundige akker gesaai, ook wat bewaring daarvan betref, as vele dowwe saadjies wat al onsuksesvol deur vele hogere geeste geplant is. Otto Liebenberg en sy span (wat wondere verrig ten spyte van ongelukkige besnoeiings in mannekrag – in NALN se geval meestal vrouekrag – het dié nagelate letterkundige saadjies, wat op vrugbare grond op die letterkundige – en taleakker geval het, gekoester dat die Afrikaanse letterkunde in NALN vol in die blom staan. NALN as instansie is vrugbare grond. Daarvan getuig die insamelings van die enorme hoeveelheid versamelings van Afrikaanse literêre reuse van net die afgelope twee-drie jaar, waartoe ek insae het vanweë my navorsing oor NALN. Die materiaal is híér – dis nie verlore nie – nou moet daar net van provinsiale kant genoegsame fondse bewillig word om hierdie versamelings te ontsluit. Soos Deon Meyer se versameling wat onlangs met NALN se beperkte mannekrag ontsluit is. Dis die uitdagings wat voorlê vir hierdie onvervangbare instansie in die Afrikaanse Literêre wêreld.

Ter Afsluiting:

Otto, ek wéét NALN is jou héle lewe. Ek dink ek besef hoe aftrede vir jou moet voel – asof jou hele hart (sonder narkose) uitgeruk word… Namens die vriende van NALN (wat ek primêr vandag hier verteenwoordig); maar ook namens myself vir die saamwerk, saam redeneer o.a. oor NALN- en skrywerskwessies, maar ook oor elke keer wat my toonnaels omgekrul het van frustrasie as jy my uit my lugkastele terugroep aarde toe met “… ek wil nie nou dat ons daaroor filosofeer of bespiegel nie … die tyd sal leer…” Kortom: Otto, BAIE DANKIE vir ‘n vriendskap van 27 jaar …

Baie dankie vir die geleentheid!

Slypskool 2015 saam met Deon Meyer

bsv_deonmeyer650Op 22 Augustus 2015 het die Bloemfonteinse Skrywersvereniging hul jaarlikse nasionale BSV- Slypskool in Bloemfontein aangebied. Deon Meyer was vanjaar die Slypskoolaanbieder en die slypskoolgangers het die ervaring om meer oor die skryfproses te leer by so ‘n groot internasionaal-gerekende en bekroonde skrywer wat steeds so nederig is, uiters positief ervaar. Hier is die BSV-bestuur saam met hom. Voor: Karen van Vuuren, Ronelle Meyer en Douwlina du Plessis (Ondervoorsitter). Agter: Lelani Fourie (Sekretaresse/tesourier), Joe Mynhardt, Deon Meyer (Slypskoolaanbieder/skrywer) en Corlietha Swart (Voorsitter: BSV). Afriforum het die slypskoolaanbieder geborg.

Die prysuitdeling van wenners van die nasionale BSV-skryfwedstryd, wat vanjaar kort onder 1000 inskrywings gegenereer het en deur die Fakulteit Geesteswetenskappe van die Universiteit van die Vrystaat geborg is het ook tydens die geleentheid plaasgevind, waartydens die bundel met die weninskrywings, Inkvars 2015 (geborg deur die Stichting tot Bevordering van Culturele Betrekkingen, Nederland-Zuid-Afrika), ook bekendgestel is. Die bundel spog met ‘n voorbladontwerp van skrywer en kunstenaar, Fanie Viljoen. Tydens die geleentheid het Protea Boekehuis ook boeke te koop aangebied.

Deon Meyer se skrywersversameling word in die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN) in President Brandstraat, Bloemfontein, gehuisves en die museum het as dekadeslange vennoot van die BSV ‘n indrukwekkende glaskasuitstalling met baniere tydens die BSV-slypskool ten toon gestel. Die twee skrywende sussies, Ciska en Lynthea Julius, was vanjaar die beurshouers van die BSV.

bsv_deonmeyer1

Die wenners van hierdie jaar se BSV-skryfkompetisie. Voor: Anri Scheepers, verteenwoordiger van die Universiteit van die Vrystaat se Fakulteit Geesteswetenskappe wat die kompetisie borg, Gilbert Gibson, een van die beoordelaars, Deon Meyer, bekroonde skrywer en gasspreker, en Corlietha Swart, BSV-voorsitter en dosent aan die UV. Middel: Hanté du Toit (tweede plek in die ope afdeling C), Irene Saunders (senior afdeling: eervolle vermelding), Thandolwethu Gulwa (senior afdeling: wenner van die nie-moedertaalskrywers), Lisa Deysel (poësie: wenner) en Sidney Gilroy (eervolle vermelding). Agter: Ilse Smalberger (tweede plek in die ope afdeling), Leunis van Rooyen (eerste, tweede en eervolle vermelding in prosa en poësie) en Jemima Meyer (skolepoësie: wenner). Foto: Mlungisi Louw

bsv_deonmeyer2

Die twee BSV-beurshouers vir 2015 by die jaarlikse slypskool vir ontluikende skrywers. Voor van links: Lynthia  en Sisca Julius. Agter van links: Anri Scheepers(UV), Deon Meyer ( slypskoolaanbieder en skrywer) en Corlietha Swart (BSV-voorsitter en UV-dosent). Foto: Mlungisi Louw

Gelukwensing

Die BSV wens mnr. Otto Liebenberg, kurator van NALN, oud-BSV-ondervoorsitter, sekretaris/penningmeester en dekadeslange vennoot van die BSV, geluk met sy 65ste verjaarsdag (aftree-ouderdom), maar ons vertrou dat hy steeds die gange van NALN sal bewandel, want hy is sinoniem met NALN. Ook wens ons hom alle voorspoed en blitsige herstel toe met die operasie wat hy vandag ondergaan en bedank hom en die NALN-personeel vir die reëlings met die Deon Meyer-uitstalling tydens Saterdag se Slypskool.
Van Corlietha Swart (BSV-voorsitter, namens die BSV- bestuur en -lede).

Deon Meyer vanjaar die Bloemfonteinse Skrywersvereniging se jaarlikse BSV-slypskoolaanbieder!

Deon Meyer vanjaar die Bloemfonteinse Skrywersvereniging se jaarlikse BSV-slypskoolaanbieder!

Die Bloemfonteinse Skrywersvereniging bied vanjaar op Saterdag, 22 Augustus 2015 om 8:00 – 14h00 die jaarlikse nasionale BSV Slypskool vir ontluikende skrywers aan in die Noorderbloem-Aftree-oordsaal in Metzstraat, Bayswater, Bloemfontein onder leiding van die gewilde spanningsromanskrywer, draaiboekskrywer en rolprentvervaardiger, Deon Meyer! Afriforum borg die slypskoolaanbieder. Hierdie bekroonde skrywer se internasionale statuur is duidelik uit die amper 30 tale waarin sy boeke reeds vertaal is. Die koste vir die slypskool, middagete, skryfbehoeftes en verversings en drinkgoed ingesluit, is R300 vir die publiek en ‘n spesiale goedkoper tarief vir BSV-lede, ook diegene wat as lede op slypskooldag aansluit. Volgens Corlietha Swart, voorsitter van die Bloemfonteinse Skrywersvereniging, kan slegs 100 slypskoolgangers geakkommodeer word (dis alreeds 20 meer as gewoonlik) en is daar letterlik, nog voor daar behoorlik reklame gemaak is, net ‘n paar sitplekke oor. Al die wenners van die BSV se landswye skryfwedstryd en twee belowende BSV-beurshouers gaan ook die slypskool gratis bywoon. Die prysoorhandiging van die wenners van die landwye BSV Skryfwedstryd, Skrywers 2015, geborg deur die Fakulteit Geesteswetenskappe van die UV, vind tydens dié geleentheid plaas. Uittreksels uit die weninskrywings word dan ook voorgelees en die publikasie, Inkvars 2015, met die weninskrywings en beoordelaarsverslae, word tydens dié geleentheid bekendgestel. Protea-Boeke sal ook tydens die slypskool boeke van die aanbieder en oor kreatiewe skryfwerk verkoop. Die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN) bring ook spesiaal ‘n uitstalling van Deon Meyer, wie se versameling in dié museum gehuisves word, na die geleentheid. Om die laaste beskikbare slypskoolplekke op te raap, kontak ons asb. so spoedig moontlik by 0733883377, of stuur ‘n e-pos na bloemsv@gmail.com Dis altyd ‘n voorreg om ‘n meesterskrywer oor die fynere kunsies van skryf te hoor praat… Sien u daar!