Wenners van Skrywers 2016 bekend gemaak!

Die Bloemfonteinse Skrywersvereniging (BSV) se jaarlikse nasionale skryfwedstryd, vanjaar weer geborg deur die Fakulteit Geesteswetenskappe van die Universiteit van die Vrystaat en gedeeltelik geadministreer deur die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN), het weer vanjaar kort onder 1000 inskrywings, die tweedemeeste sedert die ontstaan van die wedstryd in 1979, uit alle provinsies van Suid-Afrika en oorsee opgelewer. Volgens Corlietha Swart, voorsitter van die Bloemfonteinse Skrywersvereniging (BSV), is dit vanjaar opvallend dat veral die Senior-skole-afdeling getalsgewys ʼn sterk groeikurwe op die grafiek vertoon – ʼn bewys dat jongmense graag kreatief skryf in Afrikaans. Wat ook opval, is dat die kompetisie in die ope-afdelings baie straf is, aangesien vorige jare se wenners gereeld teen mekaar meeding. Die BSV kan met trots terugkyk na ’n hele lys gerekende en bekroonde skrywers, wie se sluimerende skryftalent aanvanklik deur die BSV-skryfwedstryd uitgewys en in baie gevalle daarna met ’n slypskool ontwikkel is – soos die gereelde BSV-wenner, Hilda Smits (van Nashville, VSA), wat onlangs as digter by Protea Boekhuis gedebuteer het en haar bundel onder by die BSV in NALN kom bekendstel het.

 

Altesaam R18 000 se pryse is vanjaar deur die Fakulteit Geesteswetenskappe van die UV uitgeloof en vyf BSV-wisseltrofeë vir skole was op die spel. Hoërskool D.F. Malan het vanjaar drie kategoriewisseltrofeë, o.a. die prys vir die skool met die meeste inskrywings, ingepalm. C&N Sekondêre Meisieskool Oranje van Bloemfontein het die Prosatrofee vir Seniors (Skole) ingepalm. ʼn Mooi prestasie is dat die Prosawenner van die Juniorafdeling (van D.F. Malan) aangewys is as die algehele Prosa-wenner vir skole.

Al die bekroonde inskrywings en ook die beoordelaarsverslae sal in Inkvars 2016 gebundel word en op 20 Augustus 2016 uitgereik word wanneer die pryse op die BSV se jaarlikse Slypskool vir Ontluikende Skrywers, geborg deur Afriforum, by die Noorderbloemsaal in Bloemfontein oorhandig word. Benewens die prysgeld en trofeë, kan die skryfwedstrydwenners ’n daglange slypskool onder leiding van prof. Joan Hambidge as deel van hul prys gratis bywoon. Beskikbare plekke vir die publiek is alreeds besig om vinnig minder te word. Belangstellendes wat die slypskool teen R300 wil bywoon (BSV-lede betaal R160), of Inkvars 2016 teen R90 per eksemplaar wil aanskaf, kan Lelani Fourie (BSV-sekretaresse) by bloemsv@gmail.com kontak. Baie geluk aan al die 2016-wenners!

 

Wenners van die BSV se “Skrywers 2016” is:

SKOLE-AFDELING (A):

JUNIOR AFDELING (gr. 8 en 9)

1ste (R1500) en trofee: Lisa van Niekerk, gr. 9, Hoërskool D.F. Malan, Bellville.

2de (R800):                   Marli Fouché, gr. 8, Hoërskool D.F. Malan, Bellville.

3de (R500):                   Ila Alberts, gr. 8, Hoërskool D.F. Malan, Bellville.

Eervol vermeld:             Mila de Villiers, gr.8, Hoërskool D.F. Malan, Bellville.

 

SENIOR AFDELING (gr. 10 – 12)

1ste (R1 500) en trofee: Louiza Combrinck, gr. 12, C+N Sek. Meisieskool Oranje, Bloemfontein.

2de (R800):                    Mieke Botes, gr. 12, Hoërskool D.F. Malan, Bellville.

3de (R500):                    Almé Engelbrecht gr. 11, Hugenote Hoërskool, Wellington.

Eervol vermeld:             Christine Viviers, gr. 12, Hoërskool De Kuilen, Kuilsrivier.

 

ALGEHELE SKOLE-PROSAWENNER: Lisa van Niekerk, gr. 9, Hoërskool D.F. Malan, Bellville.

 

OPE AFDELING DS (Poësie Skole):

1ste (R1 500) en trofee: Ayden Kruger, Hoër Meisieskool Paarl, Paarl.

2de (R800):                    Mieka Loubser, gr. 12, Hoërskool D.F. Malan, Bellville.

3de (R500):                    Ayden Kruger, Hoër Meisieskool Paarl, Paarl.

 

OPE AFDELING B (Nog nie voorheen gepubliseer teen vergoeding nie):

1ste (R1500) en trofee: Brechje Visagie, Christiana.

2 de (R900):                  Catharina Müller, Kaapstad.

3 de  (R500):                 Wikkie Burger, Port Elizabeth.

Eervol vermeld:              Hannes Visser, Oudtshoorn.

 

OPE AFDELING C (Voorheen gepubliseer teen vergoeding):

1ste (R1 500) en trofee: Louis Nell, Bloemfontein.

2de (R900):                    Leunis van Rooyen, Brixton.

Eervol vermeld:             Leunis van Rooyen, Brixton.

 

OPE AFDELING D (Poësie):

1ste (R1 500) en trofee: Ruan Fourie, Potchefstroom.

2de (R800):                    Marthé McLoud, Strand.

3de (R500):                    Nikita van den Heever, Muldersdrift.

 

AANMOEDIGINGSPRYS: NIEMOEDERTAALSPREKERS:

R500                             Thandolwethu Gulwa (Xhosasprekend), Phelandaba.

 

TROFEË:

HAUM-Literêr-trofee vir skool van wenner in Junior Afdeling: Hoërskool D.F. Malan, Bellville.

Olivier-wisseltrofee vir skool van wenner in Senior Afdeling: C+N Sek. Meisieskool Oranje, Bloemfontein.

Gerhard Beukes-wisseltrofee vir skool van algehele skolewenner: Hoërskool D.F. Malan, Bellville.

Vrystaat-wisseltrofee vir skool met meeste inskrywings (plus R1 000): Hoërskool D.F. Malan, Bellville.

Poësie Skoletrofee vir skool van wenner in poësie: Hoër Meisieskool Paarl, Paarl.

Wisseltrofeë vir die drie Ope-afdelings word ook aan individuele eerstepryswenners toegeken.