Hilda A. Smits die bome reusagtig soos ons was , Protea Boekehuis, (2016)

gibsonfotoHilda Smits is al sedert 2009 ‘n gereelde wenner van die poësie-afdeling van die Bloemfonteinse Skrywersvereniging se jaarlikse tradisieryke Nasionale BSV-Skryfwedstryd waarvan die posstukke gedeeltelik deur NALN geadministreer word, ‘n skryfwedstryd wat al sedert 1979 bestaan en deesdae geborg word deur die Fakulteit Geesteswetenskappe van die Universiteit van die Vrystaat. Onlangse beoordelaars van die poësie-afdeling  was die digters, dr. Gilbert Gibson en prof. Dave Lubbe. Hulle het Hilda elke jaar wat sy deelgeneem het, as algehele poësiewenner aangewys – en dit op anonieme beoordeling! Haar wengedigte het in die BSV-publikasies, Inkvars 2009 (terugblik), Inkvars 2011 (die nag se honger kHilda Smitsakebeen kraak oop) en Inkvars 2014 (dit is moeilik) verskyn. Die eerste twee jaar het Hilda uit Londen en die laaste jaar uit  Nashville, VSA deelgeneem. Inkvars word jaarlikse geborg deur die Stichting tot Bevordering van Culturele Betrekkingen Nederland Zuid Afrika en bevat al die spesifieke jaar se weninskrywings wat uit ongeveer 1000 inskrywings jaarliks vanoor die hele land aangewys word en gewild is onder stelwerkonderwysers omdat die publikasie ook beoordelaarsverslae bevat. Hierdie kompetisie het al vele suksesverhale opgelewer van deelnemers wat bekroon is, selfs as skoolkinders en wat toe die slypskool as deel van hul prys bygewoon het en kort daarna  gedebuteer het. Dit sluit bekende skrywers in, soos die kinderboekskrywers, Jaco Jacobs, Fanie Viljoen en Carina Diedericks-Hugo, digter Carina Stander, rillerskrywer en radiodramawenner Piet Steyn, en prosaïste soos Dirk Winterbach, Sonja Loots, Japie Bogaards en niefiksieskrywers, soos Ode Krige, om maar net ‘n paar te noem. En nou ook  die belowende digter, Hilda Smits.
Sedert Hilda se eerste  sege in 2009, toe haar moeder in haar afwesigheid haar trofee en prysgeld in ontvangs geneem het tydens die jaarlikse BSV-slypskool, het Corlietha Swart as BSV-voorsitter en dr. Gilbert Gibson as BSV-poësiebeoordelaar gereeld met Hilda per e-pos oorsee kontak gehou en haar voortdurend aangemoedig om te debuteer.
Wel, hier is haar debuut nou, ‘n vars nuwe stem in die poësie-akker: Hilda A. Smits se “die bome reusagtig soos ons was”, Protea Boekehuis (2016). Boonop het Hilda besluit om Bloemfontein te besoek en ewe beskeie met die BSV  kontak gemaak en gevra of sy ‘n paar van haar gedigte ter bekendstelling van haar bundel aan die BSV-lede kan kom voorlees.  Waarmee Hilda egter nie rekening gehou het nie, was dat die literêre wêreld onmiddellik begin gons het toe haar debuut op die rakke verskyn het, met onderhoude wat met haar gevoer is op Litnet, positiewe resensies van onder andere gerekende resensente soos prof. Joan Hambidge en voorlesings van haar gedigte op die nasionale radiosender, RSG. Bloemfontein bied vir Hilda Smits die ideale podium om haar wonderlike Afrikaanse verskuns op die mees geskikte plek ter wêreld, die ouditorium van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN), te lanseer, ‘n kopie van haar bundel aan die museum te skenk en sodoende haar skrywersprofiel as opwindende nuwe digterstem in Afrikaans te  vestig. Boonop is Elizabeth Eybers se uitstalling, na haar versameling onlangs uit Nederland in Bloemfontein aangekom het, nog tot op daardie dag in die ouditorium te siene – die ideale agtergrond vir die nuwe (expat)-digterstem van Hilda Smits wat ook uit die buiteland in die pragtigste Afrikaans bly dig. Hierdie bekendstellingsgeleentheid vind plaas op Saterdag, 9 Mei 2016 om 9:00 in die NALN-ouditorium (parkering uit Elizabethstraat). Dis ‘n ko-projek van die Bloemfonteinse Skrywersvereniging, NALN en die Vriende van NALN. Die digter en BSV-beoordelaar,  dr. Gilbert Gibson, sal in gesprek tree met Hilda Smits en sy sal self van haar gedigte voorlees en agterna boeke teken. Protea Boeke sal ook van haar debuut en ander digters se digbundels tydens die geleentheid te koop aanbied. Tydens teetyd is aanwesiges ook welkom om die gewilde NALN-kelderboekemark vir spotgoedkoop tweedehandse boeke te besoek, of deur die museum, wat die Afrikaans letterkunde  in sy geheel as tema het, te wandel. Die publiek, BSV-lede en Vriende van NALN wat die geleentheid wil bywoon, kan bevestig by Corlietha Swart (BSV-voorsitter) by micos@telkomsa.net of by Annelien Diedericks (NALN) by vriendevannaln@gmail.com