Otto Liebenberg – aftrede Augustus 2015

Huldigingsbydrae gelewer deur Corlietha Swart (o.a. namens die bestuur van Die Vriende van NALN)
Ek ken Otto Liebenberg al van 1988 af. Ek praat vandag hier as verteenwoordiger van die bestuur van die herstigte Vriende van NALN (dit is so belangrik, eintlik onontbeerlik vir die koestering van die instansie dat ‘n museum en navorsingsentrum se Vriendevereniging as verteenwoordiger van belanghebbers, intakt is). Maar ek het ook ‘n paar ander hoede vanoggend op. As verteenwoordiger van die Bloemfonteinse Skrywersvereniging wat al ‘n uiters noue vennootskap van in die 40 jaar met NALN gehad het en steeds het – met Otto wat vir jare Ondervoorsitter sekretaris en penningmeester van die BSV-bestuur was, die Boekemarkvennootskap tussen die BSV en NALN en die landwye BSV-skryfwedstryd wat steeds gedeeltelik deur NALN geadministreer word. Ek vertrou dat hierdie BSV-NALN-vennootskap, eintlik meer ‘n vriendskap, sal voortgaan, want dis voordelig vir beide instansies; ook het ek die hoed van Dames Perspektief op – met literêre bustoere en wonderlike programme; ek dra ook die hoed van navorser o.a. oor Von Wiellligh, Langenhoven, maar veral oor NALN, die hoed van akademikus en kultuurmens wat by vele aktiwiteite in die ouditorium betrokke is en wat universiteitstudente hiernatoe gebring het met wonderlike programme wat deur Otto, Leana, Sanette, Erika en andere in hierdie einste ouditorium en museum oor jare aangebied is… Selfs skattejagte met Paaseiers, spookstorie-aande, pragtige musiek, kuns… Kortom – NALN was oor jare balsem vir die siel. Kyk maar vandag om u rond in hierdie historiese ouditorium van NALN waarin ons ons nou bevind. Wat ervaar u op hierdie oomblik hierbinne? Met die aanstap het ek alreeds Afrikaanse kunsliedere en musiek gehoor en pas ook Sotholiedere en Plea for Africa. Kyk om u rond na al die skilderye, foto’s van skrywers, die boeke, die baniere van toneel- en filmwese, u hoor mense in die pragtigste taalrykheid praat, u hoor vanoggend gedigte … Dit laat my aan die gelaagdheid van ‘n ui dink. U weet tog almal hoe ‘n “ui” lyk. Buiten die feit dat ‘n ui jou kan laat huil, herinner hierdie gelaagdheid van kultuur, wat tasbaar is in die ryke omgewing van die ouditorium vanoggend – taal, prosa, poësie, drama, musiek, kultuur, laag op laag op laag, my aan ‘n ui met al sy lagies. Elke millimeter van NALN spel ‘n oorweldigende kulturele rykdom. En in ‘n groot mate is dit aan hierdie begaafde man, Otto Liebenberg se leiding en visie te danke. En sy geloof, want alles wat Otto doen, ook sy onsekerhede, doen hy verankerd in ‘n baie sterk geloof. As daar nie uitkoms is nie, is Otto die een wat glo dat daar ‘n oplossing van Bo deur die nag voorsien sal word. Amper ‘n soort kinderlike geloof – ‘n geloof wat nog altyd dividende afgewerp het. Otto, ek gee jou nooit pluimpies nie, en jy sal dit maar een maal in jou lewe uit my mond moet aanhoor en verduur, en dis vandag met jou aftrede … Otto is een van die begaafdste mense met die skerpste intellek wat ek ken (vir ‘n akademikus wat daagliks by die universiteit omring is deur doktore, professore en gegradueerdes, kortom, “slim mense”, sê dit baie… Otto is een van die mense met die skerpste ontledende skryfstyl, snydend tot op die been/essensie van ‘n saak met die mooiste woordgebruik, soms met ‘n tikkie outydse sjarme wat rondom die hoeke van sommige woorde huiwer, met die kostelikste woordspelings satire en binnepret, wat ek ken. Amper soos Langenhoven! As jy met jou aftrede nie die pen opneem en kreatief begin skryf nie, sal die leserswêreld nooit in jou denke kan deel nie… En dit sal ‘n enorme verlies vir Afrikaans wees – uit ‘n hele NALN-versameling, wat soos ‘n versamelvoëlnes alle Afrikaanse skrywes van skrywers huisves, sal jy, die mossie van Bloemfontein, van my gunstelingleesstof wees …

Jy staan vandag voor ‘n kruispad: jou aftrede – prof. Nienaber het eers op 77 afgetree – ek hoop dat jy met jou kundigheid, wat jy sedert 1976 met jou aanstelling by NALN kon opbou, op 77-jarige ouderdom steeds NALN se gange sal bewandel. Dis nou as owerhede besef dat, as ‘n ou man doodgaan, ‘n biblioteek afbrand. KUNDIGHEID MAG NIE VERLORE GAAN NIE – kundigheid moet ingespan word!! Otto spel KUNDIGHEID sonder gelyke in die Afrikaanse Literêre wêreld in hierdie land!

Wat sê ‘n mens met sy aftrede vir iemand wat vir kort duskant 40 jaar al vir sóvéél ingeploeg het in die akker van die bewaring van Afrikaanse Letterkunde? Ek weet regtig nie. Wat sê ‘n mens op aftrede vir iemand wat elkeen van sy wakker ure ten volle toegewyd was aan die NALN?  Ek weet werklikwaar nie. Wat sê ‘n mens vir iemand op aftrede – iemand wat selfs oor naweke, sommige Sondae, weeksdae  na-ure, soms  tot spooktyd toe met literêre programme, soms vakansiedae ook, in sy kantoor sit en werk het. Ek weet waarlikwaar nie. Sou jy as jy om een of ander duister rede 051-405-4013 oor ‘n naweek skakel, sou jy doodluiters aan die anderkant van die lyn hoor: ” Hallo, Liebenberg hier,” asof dit die normaalste ding denkbaar is om op ‘n Sondagmiddag  in Suid-Afrika antwoord in ‘n kuratorskantoor van ‘n museum te kry. Wat sê ‘n mens vir iemand op aftrede wat, buiten ‘n ou mistrappie van ‘n leer af hier,  ‘n spierrek doer, of ‘n ou galblasie daar op 65 nog springlewendig, fiks en gesond – en … meestal … by sy volle positiewe  is  en soveel ekspertise in die Afrikaanse letterkunde het om te bied – en, BELANGRIK, kundigheid m.b.t. vertrouensbande bou met Afrikaanse skrywers? Want dit is juis hierdie oorredingsvermoë en bou van goeie betrekkinge met skrywers, musici en toneelmense wat die geheime wapen is van ‘n instansie soos NALN. As jy nie vertroue van die gemeenskap in ‘n instansie kan genereer nie, is so ‘n instansie se voortbestaan gedoem, want insameling van erfenisse en nalatenskappe is daarvan afhanklik – en Otto Liebenberg is, soos prof. Nienaber was, ‘n mééster in dié oorredingskuns. Baie mense is van mening dat prof. Nienaber Otto letterlik met die hand grootgemaak het vir hierdie pos. En hierdie pos het Otto se hele lewe geword. Wat sê ‘n mens dus vir so ‘n meesterkundige as hy moet aftree?  Ek weet sweerlikwaar nie. Ek het ‘n angs in my hart as ek dink dat daar dalk baie binnekort ‘n dag gaan kom dat ek vinnig ‘n insamelingswenk kry (en dit kry ek gereeld weens goeie posisionering in die akademie, of by kultuuraktiwiteite, dat ek ojlnaln@sacr.fs.gov.za gaan tik, of Otto se kantoornommer gaan skakel, of ‘n sms gaan stuur en dat daar niemand anderkant gaan wees om te lees, te luister, die letterkundige wenk op te volg, of die e-poswenk sistematies geïndekseerd, genommer en gedateerd te antwoord nie. Ek het hom al selfs ontydig uit ‘n pandjieswinkel gebel en gesê wat ek voor my sien en dan het hy instruksies gegee oor wat ek moet aanskaf en wat ek kan los en waarvan ek net ‘n foto moet neem. So was ons verstandhouding sedert die laat-tagtigerjare in belang vd Afrikaanse letterkunde. En dit is so ‘n toeganklike MÉNS MENS wat aan NALN se stuur móét staan.

Dalk doodgewoon maar net BAIE DANKIE. Baie dankie namens die Afrikaanse Literêre wêreld. Baie dankie namens elke oorsese, maar ook binnelandse letterkundige en akademikus, waarvan sommiges te lui is om oor die drumpel van NALN as navorser te tree en doodgewoon die foon optel en dit, wat hul nodig het, telefonies van NALN aanvra, of bloot ‘n studente-assistent stuur om dit te kom haal. Baie dankie namens die lewende, maar veral die DOOIE skrywers, toneelmense en musiekmense van wie se erflatings jy, Otto Liebenberg, kuratorskap met soveel verantwoordelikheidsin en deernis aanvaar het oor soveel jare heen. Baie dankie namens die Vriende van NALN, wat ek dan ook vandag hier verteenwoordig, maar ook Baie Dankie namens elke NALN-personeellid, elke departementele verteenwoordiger, namens Abel (saam met wie jy al so ‘n lang en goeie pad stap), baie dankie namens die Bloemfonteinse Skrywersvereniging wat ek ook verteenwoordig, namens Dames Perspektief, namens die Kultuurraad, namens leeskringe, namens skoolkinders en onderwysers, namens elke potensiële skrywer wat al met soveel drome in hul oë die drumpel van NALN betreë het. ‘n Akademikus het op ‘n dag ‘n satiriese gedig aanmekaar geslaan – en Otto het so twee weke gelede daarna verwys tydens die familie-afskeid – dat hy darem in een gedig in die Afrikaanse letterkunde ingeskryf is – die gedig waar daar na prof. Nienaber as bewaarder van die Afrikaanse letterkundige poorte van NALN verwys is en na Otto, wat na prof. Nienaber se aftrede oorgeneem het, as “die tuinkabouter” wat die NALN-gange bewandel. Ek wil vandag daarop repliek lewer. Otto Liebenberg, kurator van NALN, het as sg. “tuinkabouter” ernstiger en met meer sukses en vrug op die taal– en veral letterkundige akker gesaai, ook wat bewaring daarvan betref, as vele dowwe saadjies wat al onsuksesvol deur vele hogere geeste geplant is. Otto Liebenberg en sy span (wat wondere verrig ten spyte van ongelukkige besnoeiings in mannekrag – in NALN se geval meestal vrouekrag – het dié nagelate letterkundige saadjies, wat op vrugbare grond op die letterkundige – en taleakker geval het, gekoester dat die Afrikaanse letterkunde in NALN vol in die blom staan. NALN as instansie is vrugbare grond. Daarvan getuig die insamelings van die enorme hoeveelheid versamelings van Afrikaanse literêre reuse van net die afgelope twee-drie jaar, waartoe ek insae het vanweë my navorsing oor NALN. Die materiaal is híér – dis nie verlore nie – nou moet daar net van provinsiale kant genoegsame fondse bewillig word om hierdie versamelings te ontsluit. Soos Deon Meyer se versameling wat onlangs met NALN se beperkte mannekrag ontsluit is. Dis die uitdagings wat voorlê vir hierdie onvervangbare instansie in die Afrikaanse Literêre wêreld.

Ter Afsluiting:

Otto, ek wéét NALN is jou héle lewe. Ek dink ek besef hoe aftrede vir jou moet voel – asof jou hele hart (sonder narkose) uitgeruk word… Namens die vriende van NALN (wat ek primêr vandag hier verteenwoordig); maar ook namens myself vir die saamwerk, saam redeneer o.a. oor NALN- en skrywerskwessies, maar ook oor elke keer wat my toonnaels omgekrul het van frustrasie as jy my uit my lugkastele terugroep aarde toe met “… ek wil nie nou dat ons daaroor filosofeer of bespiegel nie … die tyd sal leer…” Kortom: Otto, BAIE DANKIE vir ‘n vriendskap van 27 jaar …

Baie dankie vir die geleentheid!

Advertisements