Deon Meyer vanjaar die Bloemfonteinse Skrywersvereniging se jaarlikse BSV-slypskoolaanbieder!

Deon Meyer vanjaar die Bloemfonteinse Skrywersvereniging se jaarlikse BSV-slypskoolaanbieder!

Die Bloemfonteinse Skrywersvereniging bied vanjaar op Saterdag, 22 Augustus 2015 om 8:00 – 14h00 die jaarlikse nasionale BSV Slypskool vir ontluikende skrywers aan in die Noorderbloem-Aftree-oordsaal in Metzstraat, Bayswater, Bloemfontein onder leiding van die gewilde spanningsromanskrywer, draaiboekskrywer en rolprentvervaardiger, Deon Meyer! Afriforum borg die slypskoolaanbieder. Hierdie bekroonde skrywer se internasionale statuur is duidelik uit die amper 30 tale waarin sy boeke reeds vertaal is. Die koste vir die slypskool, middagete, skryfbehoeftes en verversings en drinkgoed ingesluit, is R300 vir die publiek en ‘n spesiale goedkoper tarief vir BSV-lede, ook diegene wat as lede op slypskooldag aansluit. Volgens Corlietha Swart, voorsitter van die Bloemfonteinse Skrywersvereniging, kan slegs 100 slypskoolgangers geakkommodeer word (dis alreeds 20 meer as gewoonlik) en is daar letterlik, nog voor daar behoorlik reklame gemaak is, net ‘n paar sitplekke oor. Al die wenners van die BSV se landswye skryfwedstryd en twee belowende BSV-beurshouers gaan ook die slypskool gratis bywoon. Die prysoorhandiging van die wenners van die landwye BSV Skryfwedstryd, Skrywers 2015, geborg deur die Fakulteit Geesteswetenskappe van die UV, vind tydens dié geleentheid plaas. Uittreksels uit die weninskrywings word dan ook voorgelees en die publikasie, Inkvars 2015, met die weninskrywings en beoordelaarsverslae, word tydens dié geleentheid bekendgestel. Protea-Boeke sal ook tydens die slypskool boeke van die aanbieder en oor kreatiewe skryfwerk verkoop. Die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN) bring ook spesiaal ‘n uitstalling van Deon Meyer, wie se versameling in dié museum gehuisves word, na die geleentheid. Om die laaste beskikbare slypskoolplekke op te raap, kontak ons asb. so spoedig moontlik by 0733883377, of stuur ‘n e-pos na bloemsv@gmail.com Dis altyd ‘n voorreg om ‘n meesterskrywer oor die fynere kunsies van skryf te hoor praat… Sien u daar!

Lewer kommentaar