Slypskool 2015 saam met Deon Meyer

bsv_deonmeyer650Op 22 Augustus 2015 het die Bloemfonteinse Skrywersvereniging hul jaarlikse nasionale BSV- Slypskool in Bloemfontein aangebied. Deon Meyer was vanjaar die Slypskoolaanbieder en die slypskoolgangers het die ervaring om meer oor die skryfproses te leer by so ‘n groot internasionaal-gerekende en bekroonde skrywer wat steeds so nederig is, uiters positief ervaar. Hier is die BSV-bestuur saam met hom. Voor: Karen van Vuuren, Ronelle Meyer en Douwlina du Plessis (Ondervoorsitter). Agter: Lelani Fourie (Sekretaresse/tesourier), Joe Mynhardt, Deon Meyer (Slypskoolaanbieder/skrywer) en Corlietha Swart (Voorsitter: BSV). Afriforum het die slypskoolaanbieder geborg.

Die prysuitdeling van wenners van die nasionale BSV-skryfwedstryd, wat vanjaar kort onder 1000 inskrywings gegenereer het en deur die Fakulteit Geesteswetenskappe van die Universiteit van die Vrystaat geborg is het ook tydens die geleentheid plaasgevind, waartydens die bundel met die weninskrywings, Inkvars 2015 (geborg deur die Stichting tot Bevordering van Culturele Betrekkingen, Nederland-Zuid-Afrika), ook bekendgestel is. Die bundel spog met ‘n voorbladontwerp van skrywer en kunstenaar, Fanie Viljoen. Tydens die geleentheid het Protea Boekehuis ook boeke te koop aangebied.

Deon Meyer se skrywersversameling word in die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN) in President Brandstraat, Bloemfontein, gehuisves en die museum het as dekadeslange vennoot van die BSV ‘n indrukwekkende glaskasuitstalling met baniere tydens die BSV-slypskool ten toon gestel. Die twee skrywende sussies, Ciska en Lynthea Julius, was vanjaar die beurshouers van die BSV.

bsv_deonmeyer1

Die wenners van hierdie jaar se BSV-skryfkompetisie. Voor: Anri Scheepers, verteenwoordiger van die Universiteit van die Vrystaat se Fakulteit Geesteswetenskappe wat die kompetisie borg, Gilbert Gibson, een van die beoordelaars, Deon Meyer, bekroonde skrywer en gasspreker, en Corlietha Swart, BSV-voorsitter en dosent aan die UV. Middel: Hanté du Toit (tweede plek in die ope afdeling C), Irene Saunders (senior afdeling: eervolle vermelding), Thandolwethu Gulwa (senior afdeling: wenner van die nie-moedertaalskrywers), Lisa Deysel (poësie: wenner) en Sidney Gilroy (eervolle vermelding). Agter: Ilse Smalberger (tweede plek in die ope afdeling), Leunis van Rooyen (eerste, tweede en eervolle vermelding in prosa en poësie) en Jemima Meyer (skolepoësie: wenner). Foto: Mlungisi Louw

bsv_deonmeyer2

Die twee BSV-beurshouers vir 2015 by die jaarlikse slypskool vir ontluikende skrywers. Voor van links: Lynthia  en Sisca Julius. Agter van links: Anri Scheepers(UV), Deon Meyer ( slypskoolaanbieder en skrywer) en Corlietha Swart (BSV-voorsitter en UV-dosent). Foto: Mlungisi Louw

Advertisements

Gelukwensing

Die BSV wens mnr. Otto Liebenberg, kurator van NALN, oud-BSV-ondervoorsitter, sekretaris/penningmeester en dekadeslange vennoot van die BSV, geluk met sy 65ste verjaarsdag (aftree-ouderdom), maar ons vertrou dat hy steeds die gange van NALN sal bewandel, want hy is sinoniem met NALN. Ook wens ons hom alle voorspoed en blitsige herstel toe met die operasie wat hy vandag ondergaan en bedank hom en die NALN-personeel vir die reëlings met die Deon Meyer-uitstalling tydens Saterdag se Slypskool.
Van Corlietha Swart (BSV-voorsitter, namens die BSV- bestuur en -lede).

Deon Meyer vanjaar die Bloemfonteinse Skrywersvereniging se jaarlikse BSV-slypskoolaanbieder!

Deon Meyer vanjaar die Bloemfonteinse Skrywersvereniging se jaarlikse BSV-slypskoolaanbieder!

Die Bloemfonteinse Skrywersvereniging bied vanjaar op Saterdag, 22 Augustus 2015 om 8:00 – 14h00 die jaarlikse nasionale BSV Slypskool vir ontluikende skrywers aan in die Noorderbloem-Aftree-oordsaal in Metzstraat, Bayswater, Bloemfontein onder leiding van die gewilde spanningsromanskrywer, draaiboekskrywer en rolprentvervaardiger, Deon Meyer! Afriforum borg die slypskoolaanbieder. Hierdie bekroonde skrywer se internasionale statuur is duidelik uit die amper 30 tale waarin sy boeke reeds vertaal is. Die koste vir die slypskool, middagete, skryfbehoeftes en verversings en drinkgoed ingesluit, is R300 vir die publiek en ‘n spesiale goedkoper tarief vir BSV-lede, ook diegene wat as lede op slypskooldag aansluit. Volgens Corlietha Swart, voorsitter van die Bloemfonteinse Skrywersvereniging, kan slegs 100 slypskoolgangers geakkommodeer word (dis alreeds 20 meer as gewoonlik) en is daar letterlik, nog voor daar behoorlik reklame gemaak is, net ‘n paar sitplekke oor. Al die wenners van die BSV se landswye skryfwedstryd en twee belowende BSV-beurshouers gaan ook die slypskool gratis bywoon. Die prysoorhandiging van die wenners van die landwye BSV Skryfwedstryd, Skrywers 2015, geborg deur die Fakulteit Geesteswetenskappe van die UV, vind tydens dié geleentheid plaas. Uittreksels uit die weninskrywings word dan ook voorgelees en die publikasie, Inkvars 2015, met die weninskrywings en beoordelaarsverslae, word tydens dié geleentheid bekendgestel. Protea-Boeke sal ook tydens die slypskool boeke van die aanbieder en oor kreatiewe skryfwerk verkoop. Die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN) bring ook spesiaal ‘n uitstalling van Deon Meyer, wie se versameling in dié museum gehuisves word, na die geleentheid. Om die laaste beskikbare slypskoolplekke op te raap, kontak ons asb. so spoedig moontlik by 0733883377, of stuur ‘n e-pos na bloemsv@gmail.com Dis altyd ‘n voorreg om ‘n meesterskrywer oor die fynere kunsies van skryf te hoor praat… Sien u daar!