Mediavrystelling – Slypskool 2014

Die Bloemfonteinse Skrywersvereniging se jaarlikse nasionale BSV-Slypskool 2014 vanjaar met Chanette Paul!

 (deur Corlietha Swart)

Wil u graag in die kop van ’n suksesvolle skrywer en uitgewer klim? Chanette Paul is kundig oor beide! Die Bloemfonteinse Skrywersvereniging bied vanjaar in samewerking met Afriforum op Saterdag, 23 Augustus 2014 om 8:00 – 15h00 in die Noorderbloem-Aftree-oordsaal in Metzstraat, Bayswater, Bloemfontein die jaarlikse BSV Slypskool vir ontluikende skrywers aan onder leiding van die gewilde spanningsromanskrywer, Chanette Paul. Sy gaan fokus op interessante temas, soos: “Afrikaanse Ontspanningsfiksie sedert 1995, skryftegniese vaardighede en stylelemente, die kernverhaallyn, plot en storie, fokalisering wat nie ’n vloekwoord is nie, karakters wat nie zombies wil wees nie, al is hulle en skryf en herskryf voor die eindproduk,” ens. Die koste vir die slypskool, middagete, skryfbehoeftes en verversings ingesluit, is R300 vir die publiek en ‘n spesiale goedkoper tarief vir BSV-lede, ook diegene wat as lede op slypskooldag aansluit. Volgens Corlietha Swart, voorsitter van die Bloemfonteinse Skrywersvereniging, kan slegs 80 slypskoolgangers geakkommodeer word en is meer as die helfte van die plekke reeds opgeraap. Al die wenners van die BSV se landswye skryfwedstryd en een BSV-beurshouer gaan ook die slypskool gratis bywoon en die prysoorhandiging van die wenners van die landswye BSV Skryfwedstryd, Skrywers 2014, geborg deur die Fakulteit Geesteswetenskappe van die UV, vind tydens dié geleentheid plaas. Uittreksels uit die weninskrywings word dan ook voorgelees en die publikasie, Inkvars 2014, met die weninskrywings en beoordelaarsverslae, word tydens dié geleentheid bekendgestel. Protea-Boeke sal ook tydens die slypskool boeke oor kreatiewe skryfwerk uitstal. Die BSV borg jaarlikse ’n belowende skrywer wat nie die slypskool kan bekostig nie, om die betrokke jaar se Slypskool gratis by te woon. Indien u enige kandidaat wil nomineer, voorsien ons asb. van die naam, omstandighede en volle besonderhede, tesame met ’n voorbeeld van sy/ haar skryfwerk vir beoordeling. Om iemand te nomineer vir die skryfbeurs, of om die laaste beskikbare slypskoolplekke op te raap, kontak ons asb. so spoedig moontlik by 0733883377, of stuur ‘n e-pos na bloemsv@gmail.com

 

Addisionele inligting

CHANETTE PAUL woon in ʼn skewerige huisie op die oewer van die Kleine Rivier in die Overbergse dorpie Stanford waar sy met allerlei storiedinge bedrywig is, haar kat probeer vlooiloos hou en bederf word deur Blom, die man in haar lewe. Sy hou daarvan om walvisse in naburige kusdorpe dop te hou en hoop sy sien eendag ʼn meermin.

Haar eerste verhaal waarvoor sy betaling ontvang het, is ’n sprokie wat sy op sestienjarige ouderdom geskryf het en op Siembamba voorgelees is. Die tweede, ’n kortverhaal, is in haar universiteitsjare in Huisgenoot gepubliseer. Sedert 1995 het ʼn verskeidenheid verhale en humoristiese artikels in tydskrifte verskyn asook agtien romanses. Vir haar debuutromanse ontvang sy Perskor se prys vir beste romantiese fiksie. Sy skryf ook drie ernstiger romans en in 1999 en 2006 is Wip van die droomvanger en Leila word lig onderskeidelik op die kortlys vir die ATKV-Prosaprys.

Sy verwerf egter eers bekendheid met haar twee reekse, naamlik die sewe historiese liefdesromans genaamd die Davelvroue-reeks, en vyf romantiese spanningsromans wat in die volksmond bekend staan as die Gys Niemand-reeks. Boheem, die derde boek in dié reeks is ’n finalis vir die 2010 ATKV-Woordveertjie in die kategorie, Spanningsromans.

Hierna volg die Maanschijnbaai-tweeluik wat saam ʼn humoristiese familieroman vorm. Die tweeluik is ʼn finalis vir die 2013 ATKV-Woordveertjie in die Liefdesroman-kategorie. Die eerste boek in die tweeluik, Jo & Sue, is ook deur lesers aangewys as Lapa se 2012 Lekkerlit Boek van die Jaar.

Hierna keer Chanette terug na spanningsromans, dié keer in heel ander gedaante as voorheen. Labirintverskyn 2012, Siende blind in 2013 (aangewys as Lekkerlit Boek van die Jaar 2013) en Raaiselspieël in Maart 2014.

Ewebeeld word in November verwag. Dis weer eens ʼn spanningsroman en Chanette se 40ste boek en 10de spanningsroman.

Slypskool 2014

 

Die Bloemfonteinse skrywersvereniging se jaarlikse slypskool word hierdie jaar op 23 Augustus 2014 deur Chanette Paul aangebied. Chanette is vir die laaste twee jaar aangewys was die Lekkerlit-skrywer van die jaar.

 

DSC01446
Die Bloemfonteinse Skrywersvereniging het Saterdag, 23 Augustus 2014 hul jaarlikse BSV- Slypskool vir Ontluikende Skrywers o.l.v. Chanette Paul gehou. Tydens hierdie geleentheid is die wenners van die Nasionale BSV-Skryfwedstryd, geborg deur die Fakulteit Geesteswetenskappe van die Universiteit van die Vrystaat, wat vanoor die hele land na Bloemfontein gekom het vir die geleentheid, bekroon. Voor, van links na regs is prof. Dave Lubbe (beoordelaar en UV-verteenwoordiger), Corlietha Swart (voorsitter van die BSV en ook UV-verteenwoordiger) en Meisie Smits (moeder van Ope: poësiewenner, Hilda Smits van Nashville, VSA). Middel, van links na regs: Izel van Zyl (Skole: Prosa, eervol vermeld, Oranje Meisieskool), Marize Meyer (Skole: Prosa 3de plek, Oranje Meisieskool), Jemima Meyer (Skole: poësie, 1ste plek, Hoërskool Jim Fouché), Handré Jankowitch (Skole: poësie, 2de plek, Hoërskool Jim Fouché), Karen van Vuuren (Woodland Hills, Ope: Poësie, 2de plek), Elize Hoffman (Skole: poësie, Aanmoedigingsprys, Universitas Primêr). Agter, van links na regs: Fred Charly (Ope: ongepubliseerdes, 2de plek, Lichtenburg), Jan Beyers (Ope: ongepubliseerdes, 1ste plek en eervolle vermelding, Bloemfontein), Coen Basson (Ope: Gepubliseerdes, Eervol vermeld, Oudtshoorn) en Leunis van Rooyen (Ope: Poësie, Eervol vermeld, Brixton). Die ses skole-wenners van Hoërskool D.F. Malan, Elize Zeeman Olivier van ‘sGravenzande, Nederland en dr. Dunes van der Merwe van die Strand kon nie die verrigtinge bywoon nie.

 

Hier is Corlietha Swart, voorsitter van die BSV by prof Dave Lubbe, beoordelaar en UV-verteenwoordiger, Chanette Paul (skrywer, keurder en slypskoolaanbieder) en Jacques Louw, BSV-Beurshouer vir 2014
Hier is Corlietha Swart, voorsitter van die BSV by prof Dave Lubbe, beoordelaar en UV-verteenwoordiger, Chanette Paul (skrywer, keurder en slypskoolaanbieder) en Jacques Louw, BSV-Beurshouer vir 2014